Latest Post

Klim en klouter saam by Maties-rotsklim Toco: Can Money Grow on Trees? Breyton Poole leaping to higher heights Neon Dreams lights up South Africa

Annerine Snyman

AfriForum Jeug het vanjaar probleme ondervind met hulle organisasie se registrasie as ’n vereniging by die universiteit.

Die registrasie is Maandag gefinaliseer en AfriForum Jeug word as ’n volwaardige vereniging gesien, maar hulle het reeds lede-werwingsgeleenthede misgeloop, soos die algemene Verenigingsuitstalling.

Volgens Hannah Lester, voorsitter van die Verenigingsraad, is die rede vir die vertraging van AfriForum Jeug se registrasie dat hulle tot haar wete nie verlede jaar as ’n vereniging geregistreer was nie.

Verder, kan sy geen bewyse opspoor dat AfriForum Jeug al as ’n vereniging geregistreer was nie.

Hulle grondwet is in 2015 deur die studentehof goedgekeur en volgens Lester was hierdie dokumente uitstaande en moes sy eers die prosedure bevestig wat sy moes volg om AfriForum Jeug eers vanjaar te registreer.

Dit beteken dus dat hulle eintlik nog sedert 2015 in die proses was om ’n vereniging op die been te bring en dat dit Maandag eers afgehandel is deur AfriForum Jeug te registreer.
Roderick Leonard, voorsitter van AfriForum Jeug, meen dat dit nie moontlik kan wees nie, aangesien hulle papierwerk in orde is. Volgens Leonard het AfriForum Jeug reeds vroeg verlede jaar vir vanjaar se registrasie betaal.

“Ek vermoed dat daar ’n oorgangsprobleem tussen die voormalige SR en die nuwe SR was,” het Leonard gesê.  “Dit kan moontlik wees waar die probleem opgeduik het,” het hy gesê.

Lester het verduidelik dat dit in die afgelope jaar ’n enorme taak was om inligting te versamel wat deur voormalige Verenigingsrade bymekaargemaak is, maar dat sy geensins op AfriForum afgekom het nie.

“Ek is nie heeltemal seker waarom ons nie AfriForum se besonderhede gehad het nie, veral omdat hulle goed in orde was,” het Lester gesê. “Daar is baie teenstrydighede in hierdie geval en ek weet nie waarom dit so is nie.”

Indien dit die geval is dat AfriForum Jeug nie as ’n vereniging geregistreer was nie, sou enige iets wat hulle in daardie tydperk op kampus, as ’n studentevereniging, gedoen het as ongrondwetlik volgens die studentegrondwet beskou kon word.

Lester het gesê dat dit die geval sou wees, tensy ’n eksterne organisasie namens AfriForum Jeug sulke projekte gehou het en in ooreenkoms met die universiteit was.

Volgens Leonard is AfriForum Jeug al vir vyf jaar ’n vereniging by die universiteit.

“Ek dink daar was beslis ’n kommunikasiegaping in hierdie geval gewees,” het Leonard gesê.

Voordat dit registrasie gefinaliseer is, het Leonard verduidelik hoe uiters frustrerend dit is om nie inligting van die Vernigingsraad te ontvang aangaande lede-werwingsgeleenthede nie, omdat hulle nie amptelik deel van die verenigings was nie.

Hy het verder gesê dat die lede wat wel by hulle aangesluit is, hom gevra het of AfriForum nog ’n vereniging is, omdat hulle nie meer byeenkomste kon reël nie.

“Alles is wel nou in orde en ons is nou geregistreer, so dit is darem nie meer ’n probleem nie,” het hy later verduidelik.

Foto: Verskaf

Translate »
Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial