Annerine Snyman
Alhoewel Maties steeds kan sê dat hulle onoorwonne in vanjaar se Varsitybeker is, kan hulle nie sê dat hulle tot dusver al hulle wedstryde gewen het nie.
Maties het gelykop teen die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) gespeel nadat die telling van 28 – 30 in Maties se guns na 30 elk gewysig is.Wits se finale drie, wat in die laaste minuut van die wedstryd gedruk was, was aanvanklik as ’n vyfpunt-drie beskou. Met verdere ondersoek is daar egter bevind dat dit wel ’n verdoelde sewepunt-drie was.
Dit beteken dat hulle die negepunt gaping tussen hulle en Maties kort voor die wedstryd se einde kon toemaak. Daar word sewe punte aan ’n drie toegeken indien ’n span dit kan regkry om uit hulle halfgebied te druk.
Dit is iets wat Wits twee keer teen Maties Maandagaand by die Wits-rugbystadion kon vermag.
Maties het vinnig begin, in kontras met hulle stadige begin teen CUT, en het binne die eerste agt minute van die wedstryd die eerste punte op die telbord gesit, met ’n drie deur Edwill van der Merwe. Elden Schoeman was die wedstryd se tweede puntemaker, maar nie een van Maties se eerste twee skoppogings was suksesvol nie.
Eers teen die derde drie, deur Johan Momsen, kon Chris Smith die drie verdoel, waarna Maties 0 – 17 voorgeloop het.
Wits, wat tans tweede op die puntelys onder Maties lê, het eers kort voor halftyd hulle voete gevind met twee drieë, een daarvan ’n sewepunt-drie onder die pale, wat maklik verdoel was.
Teen halftyd was die telling 14 – 17 in Maties se guns.
Alhoewel die tweede helfte heelwat stadiger begin het, met nog geen punte teen die 60ste minuut aangeteken nie, het Wilmar Arnoldi ’n ruk daarna gedruk en Smit het gesorg dat Maties met 10 punte voorloop deur die drie te verdoel.
Smit het ook kort daarna ’n strafskop oorgesit wat Maties se gaping met nog drie punte vergroot het.
Wits het in die laaste 10 minute gewys wat in hulle steek met nog twee drieë. Die laaste hiervan was die sewepunt-drie.
Alhoewel Maties tussen Wits se twee laaste drieë nog ’n strafskop kon oorsit, was dit nie genoeg om uiteindelik die wedstryd te wen nie. Dit sou Maties se vyfde agtereenvolgende wen wees indien die telling nie hersien en gewysig is nie.
Na afloop van die wedstryd het Niel Oelofse, Maties se kaptein, wat ook die Player that Rocks-toekenning ontvang het, gesê dat hoewel Wits ’n uitdaging was, hy trots is op sy spanmaats omdat hulle tot die einde vasgebyt het.
“Dit was nie ons beste vertoning nie, ons weet dit as ’n span, maar dit is seker maar rugby,” het Oelofse gesê.
Hy het verder verduidelik dat Maties baie het om aan te werk.
Maties se volgende wedstryd vind Maandag teen die Ikeys plaas. Die wedstryd begin om 19:00 en word by die Danie Craven-stadion gespeel.