Arleen Stone
Matie-student Carly Monique Williams het byna die telefoonoproep gemis wat haar en haar gesin ’n kans op ’n beter toekoms gegee het.
Sy vertel hoe haar luiheid om telefoonoproepe te antwoord haar amper in die voet geskiet het, maar dat aanhoudende pogings deur Cheryl Benadie, van die Universiteit Stellenbosch (US) se fondsinsamelingskantoor, uiteindelik vrugte afgewerp het.
Benadie het die verbysterde Williams ingelig dat die #SU99-fondsinsamleingsveldtog haar van alle studieskuld
en beursverpligtinge sou vrymaak.
Dié student van Genadendal in die Overberg en trotse uitvoerproduk van Emil Weber Sekondêr is die eerste persoon in haar gesin om ’n hoëronderwyskwalifikasie te verwerf en kan danksy dié veldtog haar droom om ’n taalonderwyser te word sonder enige agterstallige skuld bewaarheid.
“Dis ’n groot eer en pluimpie in my hoed, nie net vir my nie, maar vir (my hele familie). Ek is bly om uit ’n familie te kom waar ons mekaar se suksesse vier. My innerlike nerd was opgewonde om net my graad te kry sodat ek die mense wat so baie geloof in my gehad het kon trots maak.”
Alhoewel sy geweet het dat haar ouers haar nie finansieel tydens haar studies sou kon ondersteun nie, het sy hard gewerk om “uit te styg bo die omstandighede van ’n dorpie wat vasgevang is in armoede, werkloosheid en ander euwels”.
“Nie baie jongmense maak dit verby matriek nie en ek wou nie deel van die statistiek word nie.”
Williams het dit vermag om beurse te kry sodat haar ouers nie ’n sent vir beide haar hoërskool- en universiteitstudies
hoef te betaal nie.
“Ek het altyd geweet dat hulle verskriklik baie geloof in my het en baie trots is op my. Dis al wat ek van hulle
verlang het, die res het ek self voor gesorg,” vertel Williams.
Haar aanvanklike plan om Biodiversiteit en Ekologie te studeer is deur haar liefde vir taal oorskry en sy het besluit om BA Taal en Kultuur aan die US te studeer. Haar liefde vir taal én die ondersteuning van twee passievolle Afrikaansonderwysers op skool was groot trekpleisters.
Sy het verlede jaar haar nagraadse onderwyssertifikaat (NOS) behaal met Afrikaans en Engels as vakke.
“Dis die beste besluit wat ek ooit kon maak en ek berou dit nie vir een oomblik nie. Ek kon sien dat dit meer ’n roeping as ’n beroep was en ek het besluit dat ek ook so ’n groot verskil wou maak. Dis hierdie einste onderwysers
wat geskuur en geskaaf het aan my omdat hulle vas bly glo het dat ek groot potensiaal het,” sê Williams.
Vanjaar gaan Williams terugploeg in haar gemeenskap en skoolhou by haar Alma Mater, maar is ook van plan om in die nabye toekoms terug Maties toe te kom om joernalistiek te studeer en mik om selfs ’n PhD in Afrikaans en Nederlands te behaal.