Elodi Troskie
Om fiets te ry is meer as net ’n vinnige manier om van punt A na punt B te kom. Dit is ’n hele belewenis: ’n gevoel van toeris-wees, selfs al ry jy net van die koshuis af klas toe.
Dit is moontlik nie vir almal só dramaties en romanties nie, maar as jy reeds ’n fiets het of dit oorweeg om hierdie jaar een te kry, is daar ’n paar dinge wat jy in gedagte moet hou.
Eerstens, veiligheid.
Voordat jy en jou twee wiele Stellenbosch se strate invaar, maak seker dat jy weet wat die basiese padreëls vir fietsryers is.
Baie van dieselfde reëls vir motorbestuurders geld ook vir fietsryers: stop altyd by stopstrate en rooi verkeersligte, ry aan die linkerkant van die pad saam met die vloei van motorverkeer (tensy daar ’n aparte fietsbaan langs die pad is), gee voordeel aan voetgangers en stop eers by voetoorgange.
Dit is natuurlik baie belangrik om ’n helmet te dra.
Om veilig fiets te ry, beskerm jy nie net jouself nie, maar ook almal wat die pad met jou deel. Vir volledige reëls en regulasies, besoek www.arivealive.co.za.
Universiteit Stellenbosch het fietse beskikbaar.
As deel van die universiteit se volhoubaarheidsdoelstellings, is die Matie Fietse in 2012 bekendgestel. Die fietse is jaarliks te huur teen R2500, waarvan daar ’n R1500 terugbetaalbare deposito is indien die fiets nie gesteel word of daar enige skade aangerig word nie.
Die huurgeld sluit fietsligte, ’n slot en toegang tot veilige fietsloodse by sentrale plekke op kampus.
Die Matie Fietse is ’n goeie opsie vir studente wat fietsvervoer vir die eerste keer wil uittoets of dalk nie lank genoeg op Stellenbosch gaan wees om hul eie fietse te koop nie.
Vir meer inligting, besoek www0.sun.ac.za/sustainability.
Stellenbosch is een van die gewildste fietsry-areas in Suid-Afrika.
Met sowat 500km se fietsroetes vir die avontuurlustiges, bied Stellenbosch die ideale geleentheid vir gretige fietsryers om die dorp en omliggende gebiede per twee-wiel te verken.
Hoewel baie van die area se roetes vir bergfietsryers uitgewerk is, is groot gedeeltes daarvan ook padfietsvriendelik.
Die Eersterivier-, Kampus- en Historiese Stellenbosch-roetes is net ’n paar hiervan.
Gesondheidsvriendelik, omgewingsvriendelik en Instagramfoto-vriendelik: fietse is dié ideale vervoeroplossing.
Foto: Anke van der Merwe