Latest Post

A sense of belonging for Victoria Cluster Glaskas: Volstoom Vooruit! Earth Week: SU takes on Sustainability Maties rowing exceeds expectations at USSA-R sprints

Annerine Snyman

Charmaine Baard (22) gaan vanjaar haar netbalvlerke in Engeland sprei nadat sy menigte suksesse by Maties behaal het.

Dit was nog altyd vir Baard ’n droom gewees om in Engeland of Australië se superligas te kan speel. Sy het dit egter net as droom en nooit ten volle as haalbare doelwit beskou nie, aangesien dit vir min SuidAfrikaanse netbalspeelsters werklik moontlik is.

Juis daarom het sy die nuus dat een van die groot Engelse netbalklubs, Surrey Storm, haar wou hê, as baie onverwags beskou.

“Ek was eerlikwaar oorweldig. Dit het so onwerklik gevoel en ek het gehuil en gelag op dieselfde tyd. Ek het nie geweet hoe om te reageer nie,” het Baard oor haar reaksie gesê.

“Ek het my ma gebel en sy het my ore afgeskree. Daarna bel Zanele (Maties Netbal se afrigter) my en doen presies dieselfde. Ek het nooit in my wildste drome gedink dat hierdie geleentheid oor my pad gaan kom nie en hier was dit voor my,” het sy bygevoeg.

Baard het sedert haar eerstejaar in 2013 in Maties se topspanne presteer en by beide USSA- sowel as Varsity Netbal kompetisies uitgeblink. Sy het ook menigte kere provinsiale kleure verwerf. In 2016 en 2017 was sy ook deel van Suid-Afrika se Fast Five-span wat te danke is aan haar vermoë om oor ’n ver afstand doele te sink.

Hoewel Baard eers in Julie na Suid-Afrika sal terugkeer, is dit steed vir haar moontlik om haar HonsBEdgraad aanlyn deur die universiteit te voltooi. Sy gaan ook later vanjaar weer by Maties aansluit as deel van die Varsity Netbalspan.

Baard sien haar deelname aan die Engelse superliga as iets wat nuwe geleenthede inhou. Daarmee sien sy dit as iets heeltemal anders as dit waaraan sy voorheen deelgeneem het.

“[Ek sien dit as ’n geleentheid] om nuwe dinge te leer, om saam met ander mense te werk, om myself teen van die beste van die bestes te meet en om dit te geniet. Hierdie geleentheid kom net een keer in ’n leeftyd en ek wil dit nie as net nog ’n netbaltoernooi aanpak nie,” het sy vertel.

Sy meen egter dat balans ’n groot fokuspunt vir haar sal wees, aangesien sy by die Engelse manier van speel sal moet aanpas, sonder om te veel van haar unieke speelwyse op te offer.

Naas Baard, speel vier ander SuidAfrikaners ook in hierdie liga, soos spanmaat Sigi Burger wat vir Pukke en die Proteas speel.

“Sy weet wat ek op die baan kan doen en ek weet wat sy kan doen, so ons lees mekaar baie goed. Dit is natuurlik ook bitter lekker om iemand te hê met wie ek Afrikaans kan praat. Sy is ’n fantastiese mens en vat van daai erge verlange huis toe weg,” het sy van haar vriendskap met Burger gesê.

Die superliga het op 10 Februarie afgeskop en Surrey Storm het eerste teen die Wasps te staan gekom. Surrey Storm het verloor, 68-43.

Translate »
Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial