Nuwe regsdekaan tree in

Dané Dooge

Prof. Nicola Smit, nuwe dekaan van die Regsfakulteit, het haarself verlede Woensdag formeel aan die  regstudente voorgestel. Smit het in Augustus die amp by prof. Sonia Human oorgeneem. Smit het in Port Elizabeth grootgeword en daarna aan die Universiteit van Pretoria regte gaan studeer, waarna sy haar LLD aan die Universiteit van Johannesburg (UJ) voltooi het.

Gedurende 2010 is sy aangestel as visedekaan van UJ se Fakulteit Regsgeleerdheid en in 2013 het sy as dekaan by die Noordwes-Universiteit se Fakulteit Regsgeleerdheid (Potchefstroom) aangesluit. Smit sê sy het die posisie as dekaan van die Universiteit Stellenbosch se Regsfakulteit aanvaar weens die fakulteit se goeie reputasie.

Volgens haar het dit ook sterk internasionale bande, ondersteuning van prominente rolspelers en ‘n merkbare en betekenisvolle voetspoor in die gemeenskap.

Haar visie vir die fakulteit is een wat meer ruimte maak vir diverse aangeleenthede, maar sy glo dat haar visie en drome slegs bereikbaar sal wees deur samewerking en ondersteuning van mede-personeel en studente.

“Ek voel dit is belangrik om te beklemtoon, dat watookal my visie vir die fakulteit is, ook die visie van die personeel en die studente moet wees. “Wat ek graag sal wil sien, is ’n fakulteit met een gemeenskaplike droom en visie waarvan al die relevante lede saamstem met hoe, hoekom en wanneer ons sekere drome en doelwitte wil en gaan bereik.”

Dit is vir Smit ook baie belangrik om ’n omgewing te skep waar studente sal voel dat hul diverse sienings  en menings met respek behandel sal word. “Een van my top prioriteite is om meer fokus te plaas op diversiteit by die fakulteit. Ek dink dit is belangrik dat die fakulteit in aanraking kom met verskillende opinies en idees.

Smit wil ook graag in haar posisie as dekaan ’n sosiale impak in die gemeenskap maak. “Met die hulp van advokaat Thuli Madonsela wat by die fakulteit gaan aansluit, hoop ek dat die fakulteit gepaste sosiale kwessies gaan kies om sosiale geregtigheid te bevorder.

“Ek wil baie graag sien dat ons fakulteit ’n gesamentlike droom en ’n baie sterk sosiale impak het, dat ons uitnemendheid nog verder gaan bevorder en dat ons studente en dosente se reputasie hulle werklik vooruitgaan.”

Smit moedig ook die studente aan om gemaklik te voel met hul eie subjektiewe sienings, en om deel te neem aan die sosiale transformasie wat sy vir die Regsfakulteit beoog.

Foto: Dané Dooge

Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial
Facebook
Twitter
Instagram