Martie Retief-Meiring

Hierdie tyd van die jaar laat ou vriende weer: Ons kleinkind kom Maties toe; ons agterkleinkind kom; kan jy glo dat ons ons vierde kind 2017 kom aflewer?; Wilgenhof kry sy vierde geslag  volgende jaar.

As dorpeling beloof ek dat daar altyd ‘n bordjie of wat by my te vinde sal wees (wetend dat die nuwelinge min tyd vir tantes het, want die hele lekker wêreld – De Akker ingesluit – lê aan hul voete). Maar ek sê darem hardop: Weet julle hoe gelukkig julle is, want net een uit ses aansoeke slaag vir toelating. Die Universiteit Stellenbosch is propvol, bars al klaar uit sy nate met 31 000 studente.

Volgende jaar word my alma mater op 2 April 100 jaar oud. Die huidige kampus woel met groot veranderinge, maar dink net hoe dit in 1917 nie al gewoel het nie: Die ou Victoria Kollege word ‘n
Universiteit; ’n legende word geskep met ‘n donateur, Jannie Marais, wat sy voet dwars gesit het. Die dorp sou sy eie Universiteit kry en nie met die Kaapse Universiteit saamboer nie. Oud-Maties – daar is tans 197 829 (om presies te wees) oor 136 lande versprei – word druk herinner dat volgende jaar eeufeesjaar is.

George Steyn, die gemoedelike voorsitter van die US-raad,  weet hoe om die boodskap tuis te bring. So vertel hy aan ’n skare oudstudente (wat nie klaar gegroet kan kry aan ou-ou klasmaats nie)  dat 8348 studente verlede jaar kwalifikasies gekry het, baie daarvan meesters- en doktorsgrade – 27% van daardie kwalifikasies aan studente van kleur. Meer as 100 buitelanders het hier kom
studeer.

Steyn wys op die vermindering van subsidies, op die groter eise van navorsing, dat die US meer patente registreer as enige ander universiteit in die land. En dan: Oudstudente kan (gerus) meer beduidend bydra. Die staatsubsidie is verminder. Beurse eis toenemend ’n groot hap.

Prof. Niel Krige, ’n gesoute sake- en beleggingskenner, is die voorsitter van die US se Ontwikkelingskantoor wat nougeset kontak hou met oudstudente en ook talle Matiebonde. Inligting word gestuur oor die 2014-visie van die universiteit, die opskerp van innovasie en navorsing. Die sterk groei van veral die agriwetenskappe en ingenieurswese, en ja, tog ook die taalkwessie – die voorstaan én die teenstaan. En dis ook verblydend dat die amptelike briefhoofde van die US Xhosa insluit.

Duidelik het die universiteit ‘n goeienuusstorie om te vertel – ook van nood. Om die tafels by die geleentheid gons dit. Ja dit gaan broekskeur om vir klein Jannie op Maties te hou, maar liewer ‘n universiteit waar standbeelde (gedenk Pienk Piet), geboue en eiendom nie beskadig word nie, al is daar hier en daar optogte.

En ter verwagte, herinner ‘n platjie (en die voorsitter ook): Dit is die eerste plek waar ’n penisoorplanting gedoen is. Dit óók nog!

Retief-Meiring is ’n joernalis en US alumnus. Dié artikel verskyn oorspronklik in Die Burger rubriek Van Alle Kante, 21 September 2017.