Zahne Petersen of Maties and Lungile Mthembu of TUKS compete for the ball during the Varsity Netball semi-final match between Maties and Tuks at Rembrandt Hall, TUKS in Pretoria on 2nd October, 2017. Photo by Dominic Barnardt/Varsity Sports

Maties verloor halfeindstryd met 31 doele

Tivan Leak

Maties het Maandag by die Universiteit van Pretoria gesukkel om balle in die net te kry terwyl Tuks die hoogste telling nóg in ’n halfeindstryd van Varsity Netbal aangeteken het.

Die telling na die eerste kwart was 13 teenoor 12 in Tuks se guns, maar Maties het verloor met 74 doele teen 43.
Tuks se afrigter het in die tweede kwart ’n strategiese powerplay geroep, terwyl Tuks op momentum was. Maties se powerplay is in die derde kwart geroep.

Hoewel Maties beter in die tweede powerplay vertoon het, was dit Tuks wat met 48 punte teenoor 30 ontluik het.
Nichole Taljaard, Maties se hulpdoel, het tereg uitgewys dat Maties ná halftyd aan die gang moes kom, maar tydens die derde en vierde kwart het Tuks voortgebou op hulle voorsprong.

Zanele Mdodana, afrigter van Maties, het na afloop van die wedstryd opgemerk dat sy teleurgesteld was en dat sy nie omgee om te verloor nie, maar dat daar ’n sekere manier was waarop sy sou wou verloor. “Die meisies het soortvan opgegee,” het Mdodana na die wedstryd aan die TV-onderhoudvoerder vertel.

Sy het die verloor toegeskryf aan Maties se trae balhantering wat Tuks toegelaat het om hulle verdediging in plek te kry. Mdodana het gesê die span sal leer uit die foute wat tydens die wedstryd gemaak is. Sy het verder beaam dat sy
en die span hulle planne sal herdink, beter stelsels in plek sal stel en volgende jaar weer sal probeer.

Tuks se hoofdoel, Ine-Mari Venter, en hulpdoel, Rumandi Potgieter, was ’n doring in die vlees van Maties se verdediging, maar hulle is ná die wedstryd as onderskeidelik speler van die wedstryd en doel van die wedstryd
bekroon.

Tuks se oorwinning was egter bittersoet met Juzelri Garbers se kniegbesering in die laaste kwart. Tuks sal oudergewoonte teen Pukke in die finaal speel op 9 Oktober op Tukkies se tuisveld.

Maties het verlede jaar ook die onderspit gedelf in die halfeindronde en kon nog nooit daarin slaag om die kompetisie te wen nie. Maties het derde op die puntelys geëindig nadat Pukke in die ander halfeindstryd teen Kovsies met 38-26 gewen het.

Foto: Varsity Sports

Translate »
Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial
Facebook
Twitter
Instagram