Latest Post

Ramadan – One month of fasting for a reward everlasting Klim en klouter saam by Maties-rotsklim Toco: Can Money Grow on Trees? Breyton Poole leaping to higher heights

Lisa de Clercq

Die vraag, “wat gaan jy met jou graad dóén?” kan vir universiteitstudente vreesaanjaend wees, veral as die jaar na ’n einde se kant toe begin staan.

Madri Scherman, tans met ’n nagraadse diploma in Bemarking besig, het groot planne vir haar besigheid, Masch, waar sy haar selfgemaakte klere en handgemaakte leerprodukte verkoop.

In die eindeksamen van haar finale jaar BSc Molekulêre Biologie en Biotegnologie aan die Universiteit Stellenbosch, het Scherman besluit om die eerste popup winkel vir haar selfgemaakte klere te hou.

“Ek het in die koshuis vir myself begin klere maak omdat ek van klassieke klere hou en gesukkel het om dit in winkels te kry,” vertel sy. Die studente in haar koshuis het van haar klassieke ontwerpe gehou en Scherman het begin om klere op bestelling te maak.

Scherman met een van haar selfgemaakte bloese en handgemaakte leersakke.

Na sy in Julie vanjaar ’n kursus in die hand-stikwerk van leer voltooi het, het sy begin om leerprodukte soos beursies, sakke en strikdasse te maak. So het haar besigheid, Masch, tot stand gekom.

Al Masch se produkte is eksklusief. Die leerprodukte verskil van meeste ander leerprodukte omdat dit met die hand gemaak word om sodoende sterker en meer omgewingsvriendelik te wees.

“Meeste van my produkte is geïndividualiseer, met ander woorde jy kan jou naam of van daarop graveer,” sê Scherman.

Masch se produkte word op die oomblik op Instagram bemark, maar Scherman beplan om teen volgende jaar ’n webtuiste te hê waar produkte aanlyn bestel kan word.

“Ek gaan dit vir ’n jaar voltyds doen,” sê sy. En oor die toekoms? “Ek weet nie mooi wat ek met my lewe gaan doen nie, maar hierdie is lekker.”

Volgens Scherman sal sy nie haar BSc-graad en tyd op Stellenbosch vir enige iets verruil nie, maar beplan egter nie om verder in daardie rigting te beweeg nie.

“Ek dink 50% van Stellenbosch-studente weet nie wat hulle wil doen nie, maar mens kom op ’n punt waar jy besef dit is okay. Of jy jou graad gebruik of nie, het dit jou steeds ’n klomp goed geleer”.

Scherman se antwoord op die vraag “wat gaan jy met jou graad dóén?” is dan: “Ek leer vir al wat ek kan.”

Scherman se produkte word op die Instagram-profiel masch_x_ bemark.

Foto: Verskaf

Translate »
Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial