Eugenie Gregan
Drie studente van die Universiteit Stellenbosch (US) is van die belowende nuwe stemme wat in Afrikaanse digkuns gehoor word.
Elodi Troskie, Remona Voges en Ryan Pedro se poësie is in die bundel Nuwe Stemme 6 opgeneem wat onlangs gepubliseer is.
Die Nuwe Stemme-inisiatief bied voornemende digters die geleentheid om hul werk te publiseer as hul nog nie genoeg gedigte het om ’n bundel vir publikasie aan ’n uitgewer voor te lê nie.
Om in te skryf moes aspirantdigters sewe gedigte voorlê. Die samestellers van die bundel, Bibi Slippers en Charl-Pierre Naudé, het die beoordeling behartig en die gelukkige digters gehelp om hul werk te slyp en af te rond sodat die beste weergawes van hul gedigte gepubliseer word.
Volgens Pedro, ’n derdejaarstudent in BA Taal en Kultuur, het die samestellers se insette hom gehelp om nuwe perspektief op sy poësie te kry.
“Dit was slegs moontlik as gevolg van die afstand wat so ’n proses tussen ’n skrywer en sy eie werk skep. Die hele ervaring – die inskryf, die herskryf, die klaarskryf – het my geleer om te deel. Dié act of sharing het hierdie hele bundel tot gevolg gehad.”
Voges, ’n doktorale student in Afrikaans en Nederlands, meen ’n belangrike les wat sy geleer het, is dat daar niks nuuts in die wêreld is nie.
“Jy moet skryf wat alreeds gesê is, maar op ’n nuwe en vars manier. Om dit te kan doen, moet jy weet wat aangaan in die literêre gemeenskap, nie net in Afrikaans nie.”
Volgens Troskie het die proses haar uitgedaag om ontvanklik vir kritiek en voorstelle te wees.
“Ek moes oor en oor en oor skryf en dit het my geleer dat jy nooit regtig kláár geskryf is nie. Ek het ook geleer om meer crafted te skryf, om van elke sin ’n gedig te maak en om soveel as moontlik met so min as moontlik woorde te sê.”
Vanjaar se bundel sluit ’n wye spektrum digters se werk in en die digters hoop dit sal ook mense wat nié poësie lees nie se belangstelling prikkel.
“As jy kyk na die samestelling, is daar mense van alle ouderdomsgroeppe en velkleure. Dit is ’n fantastiese manier om ’n indruk te kry van hoe mense van verskillende agtergronde en plekke in hul lewens in kreatiewe Afrikaans oor sekere kwessies dink,” sê Voges.
Troskie meen die bundel verteenwoordig die nuwe generasie skrywers baie goed.
“Ek hou van hoe divers die boek is. Mense van alle ouderdomme, regoor die land, van verskillende agtergronde en beroepe wat hulself kreatief uitleef.”
Die bundel is landswyd by boekwinkels teen R240 beskikbaar.
Foto: Hendrik Nieuwoudt