Ané van Zyl
Die studentehof het beslis dat Huis Visser manskoshuis se HK-verkiesing in Augustus ongeldig was, omdat die verkiesing plaasgevind het ten spyte van ’n interdik daarteen.
Huis Visser inwoner Kerwin Cameron Jacobs het die studentehof vir die interdik genader na primarius Frikkie Strydom ‘n noodvergadering byeengeroep het. Die doel van die vergadering was om ‘n reël wat vereis dat alle kandidate vir Huiskomitee (HK) twee uit drie kritiese gesprekke ’n jaar moet bywoon, uit te stem.
Die studentehof het ’n interdik teen die verkiesing tydelik toegestaan omdat die versoek van ’n dringende aard was en binne 24-uur aangespreek moes word. Die studentehof se dokumente dui aan dat die interdik nie nagekom is nie, hoewel Jacobs ’n gedrukte weergawe van die interdik aan die inwonende hoof en die HK oorhandig het.
Volgens inwonende hoof van Huis Visser, Werner de Wet, het die studentehof het nagelaat om dit aan die respondente te stuur.
“Sonder enige bevestiging vanaf die studentehof teen die aanvang van ons verkiesing het ek die verkiesing laat voortgaan,” het De Wet gesê.
Die studentehof het hiervoor om verskoning gevra, maar later beslis die respondente was steeds onder verpligting om die interdik te gehoorsaam. De Wet meld ook dat Jacobs geensins ’n kandidaat vir HK-verkiesings was nie.
“Hy word dus glad nie deur die besluite by die noodhuisvergadering, of die van die studentehof, of die verkiesing beïnvloed nie.”
Volgens die beëdigde verklaring van de Wet en die HK is slegs twee kritiese kontaksessies die jaar gehou, en slegs vier van die kandidate het albei bygewoon. Daar sou daarom slegs vier verkiesbare kandidate wees, teenoor 19.
Die beëdigde verklaring van die inwonende hoof en HK bevraagteken die jurisdiksie van die studentehof oor die HK van Huis Visser, en meld ook dat die tydelike interdik sonder geleentheid vir opposisie toegestaan is. Die inwonende hoof en die HK sal daarom die uitspraak appelleer.
Die studentehof het egter bevind dat dit wel jurisdiksie oor die HK van Huis Visser het, omdat die dispuut tussen lede van die studentegemeenskap ontstaan het. Daar is egter ’ waarnemende HK aangestel.
“In belang van vele reëls en wetgewing moet daar HK-lede in posisie wees om sekere rolle te vervul, soos byvoorbeeld veiligheidsbeamptes in die geval van ‘n brand. Daarom is ons genoodsaak om waarnemende HK-lede aan te stel wat die verantwoordelikhede van HK-lede vervul totdat die Appel Saak afgehandel is.”
Hoewel studentehof beslis het dat die verkiesing ongeldig is, het die hof nie die jurisdiksie om te besluit oor Huis Visser se reëls nie. Volgens De Wet is die verandering aan die reël met ’n meerderheid uitgestem en sal daarom verwyder word.
Studentehof het aanbeveel dat ’n tweede verkiesing plaasvind.
Volgens die De Wet is die hele proses onnodig, en onredelik teenoor die individue.
“Indien ons nou weer ‘n nood-huisvergadering hou, en oorstem, sal daar die selfde uitslag wees, en die meerderheid van die onsuksesvolle kandidate, indien nie almal nie, het al aangedui dat hulle nie hulself beskikbaar gaan stel vir ‘n herverkiesing nie. Dit is kommerwekkend dat die studentehof die besluit van ‘n inwonende hoof, ‘n personeellid, wat volgens die koshuis Grondwet, en die Koshuisreels van die Universiteit die koshuis oorsien, kan tersyde stel.”