Latest Post

Klim en klouter saam by Maties-rotsklim Toco: Can Money Grow on Trees? Breyton Poole leaping to higher heights Neon Dreams lights up South Africa

Ingrid Heÿdenrÿch

Daar is baie vrae oor die belangrikheid en relevansie van gedrukte studentemedia. Daar word geargumenteer dat die wêreld digitaal draai en koerante en ander gedrukte media daarby moet aanpas.

Tot ’n mate is dit waar. Dit is onrealisties om te droom studente sal elke dag die geld wat hulle eerder op ’n koffie wil bestee vir ’n koerant sal uitgee waarin daar net hier en daar ’n artikel wat nuus bevat wat hul lewe direk gaan raak.

Dit is hier waar die kruks van die saak egter inkom: Daar is ’n groot verskil tussen gedrukte koerante wat nuus van ’n wye spektrum bevat teenoor koerante wat gespesialiseerde nuus aan hulle lesers bied, waar elke artikel in die koerant die leser daarvan raak. Selfs al glo jy nie in die belangrikheid van gedrukte koerante nie, is daar soveel redes waarom studentemedia moet voortbestaan in gedrukte medium.

Gratis, gedrukte koerante, soos Die Matie, is gelykmakers.

Dit is ’n konstante nuusbron waarop lesers kan staatmaak om die inligting wat vir hulle belangrik is te verduidelik.

Studente hoef nie te bekommer oor die vermoë van hulle selfone, die afwesigheid van WiFi of die toestand van hulle InetKey-rekening as dit kom by Die Matie nie.

Om ’n koerant op te tel elke tweede Woensdag en te lees oor die dinge wat rondom mens gebeur, is soveel meer konstruktief en blywend as om net die opskrif van ’n webartikel te sien wanneer jy deur jou newsfeed scroll.

Dit is natuurlik belangrik om aan te pas by die digitale verandering. Deur sosiale media en ons nuwe webtuiste, hou Die Matie ook by die snel pas waarteen die bedryf beweeg.

Behalwe vir ons in-diepte, netjies uiteengesitte nuusberigte in drukfromaat, bied ons ook vir julle lewendige opdaterings en videos oor wat aangaan op kampus.

Die Matie, in al sy vorme, is noodsaaklik vir die universiteit indien dit wil voortgaan om as ’n instansie gesien te wil word wat die waardes van demokrasie bevorder.

Ja, Die Matie is ’n mondstuk vir die studente deur die studente, en dit is wat ons in essensie altyd sal wees, maar ons is ook die liggaam op kampus wat studente se belange beskerm.

As jy nie ingelig is oor dit wat rondom jou aangaan nie, gaan jy nie eers weet wanneer jy tenagekom word nie. Ons almal ken die sentiment dat ons die geskiedenis moet ken, sodat interessante dit nie herhaal word nie. Die Matie is die middel waardeur die geskiedenis asem kry.

Dit is ook belangrik om te onthou dat dit wat Die Matie bied. nie stop by dit wat op ons bladsye is nie. Dit moet voortleef in jou wat met die mense om jou praat oor die belangrike kwessies wat nie vore gebring is in die koerant nie. Laat weet die mense om jou, asook die mense in beheer hoe jy voel oor die besluite wat namens jou geneem word.

So, wat is Die Matie? ’n Gelykmaker, ’n spreekbuis, ’n waghond en die beginpunt van daadwerklike verandering.

Translate »
Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial