Bernard Pieters
Wat is regte? Indien jy vir tien mense sou vra wat burgerregte of menseregte is, sal jy heel waarskynlik tien verskillende antwoorde kry.
Kom ons kyk eers vanuit ’n sekulêre oogpunt na die vraagstuk “Wat is regte?” Waar kom jou regte vandaan? Wie besluit watter regte jy het? Wie besluit wie regte het en wie nie?
Al hierdie vrae het dieselfde antwoord: mense. Belangriker nog, mense in magsposisies.
Buiten dat mense nie in hul leeftyd konstant is oor kwessies nie, is groepe mense ook nie oor tyd konstant soos wat die kultuur en gewoontes van groepe mense verander nie.
Voorbeelde hiervan is die besnyding van jong meisies se geslagsorgane in Afrika en die Midde-Ooste. Hierdie gebruik sal byvoorbeeld nooit in Westerse lande geduld word nie.
Volgens The Guardian van 10 April 2017 word swart mense in Libië op die slawemarkte teen R6 824,84 per “Afrika-slaaf” aangekoop en verkoop.
Na aanleiding hiervan het ek ’n aantal studente op die Matie-kampus uitgevra oor waarom hulle dink niemand op Stellenbosch ooit hieroor praat nie.
Dit was skokkend dat al die studente met wie ek hieroor gepraat het, bewus was van die kwessie, maar groter steeds was my verbasing dat al die studente dieselfde antwoord verskaf het oor waarom die bespreking hiervan nie toegelaat word nie: “It’s Islamophobic to criticise their practices in today’s ‘politically correct’ culture.”
Regte soos ons dit vandag in Suid-Afrika ken, het ook oor die afgelope paar honderd jaar drasties verander.
So sal dit waarskynlik steeds in die toekoms verander soos ons waardes met tyd verander of deur eksterne bronne beïnvloed word.
Vroueregte was byvoorbeeld sterker in eertydse Egipte as vandag, terwyl daar ook nie van Boudicca vergeet moet word wat die Romeine byna uit Brittanje verdryf het nie.
Regte gaan soms “uit die mode” en word dan later weer “gewild”. ’n Mens dink aan bekende filosowe soos Heraclitus (55 v.C.) wat gesê het dat verandering die kern van alles is.
So ook verander wat ons as die regte van individue of selfs groepe beskou, omdat ons idees hieroor op die gewilde teorieë, ideologieë, gelowe of kulture van ons tyd berus.
Dit kan vergelyk word met die beginsel van sosialisme, wat die idee ondersteun dat iemand wat te lui is om self te werk, geregtig is op ’n deel van ’n hardwerkende persoon se vergoeding.
Bogenoemde is slegs enkele voorbeelde en een van talle maniere om na regte in ons samelewing te kyk.
Die punt wat ek probeer maak is dat regte nie konstant of universeel verstaan of toegepas word nie.
Regte kan deur maghebbendes gebruik word om ander te onderdruk en te reguleer, of dit kan deur individue gebruik word om hulle teen ander te beskerm.
Regte is iets waarvoor die onderdrukte altyd voor sal moet veg. Dit is ’n stryd van idees sonder einde.
Ek sluit af met die volgende scenario en ’n paar vrae.
Indien daar ’n groep van tien mense is (elkeen gelyk voor die reg, met elk presies dieselfde regte as die ander) en hulle stem demokraties agt teenoor twee dat die meerderheid die minderheid se geld en eiendom mag neem, was die proses regverdig? Is gelyke regte dan ’n eties regverdige standpunt?
Bernard Pieters is die nasionale koördineerder van dorpstrukture vir AfriForum Jeug.