Latest Post

Klim en klouter saam by Maties-rotsklim Toco: Can Money Grow on Trees? Breyton Poole leaping to higher heights Neon Dreams lights up South Africa

Dané Dooge

Jy het jouself nou al op meerdere platforms op die Suid-Afrikaanse filmtoneel gevestig. Jy is ʼn skrywer, akteur en regisseur. Wat is jou gunsteling deel, en hoekom?

Die rede hoekom ek al drie doen is omdat ek nog nie daai vraag ordentelik kon beantwoord nie (haha). Die tema wat die meeste by my resoneer is om iets te skep; om iets nuuts te maak. Dit is ʼn kombinasie van skryf, speel en regie wat als deel vorm van skep, waarvoor ek baie lief is. Dis nie net in die filmwêreld van toepassing nie, ek hou ook van houtwerk doen en iets bou, wat vir my dieselfde gevoel gee. Ek het vir die eerste keer met Hotel ordentelik regie gedoen, en dis vir my vreeslik lekker om die boot te bestuur.

Jy is ook bekend vir die skryf van die komedie op kykNET, naamlik Hotel. Waar het jy jou inspirasie gekry?

Ek het eers die geleentheid gehad om ʼn TV-reeks te pitch, en toe ek die geleentheid kry moes ek gaan sit en mooi dink wat ek sal wil maak. Ek is ʼn massive fan van The Office en Parks and Recreation, en ook dan ʼn fan van die mokumentêr. Ek het toe besluit om ʼn mokumentêr te maak, en ʼn hotel het ʼn lekker agtergrond vir so mokumentêr weergegee. Die karakters was klaar maklik ingekleur in terme van wat hulle moet doen, dus het dit ʼn maklike speelplek geword. Ek en Stiaan Smith het dit ontwikkel en geskryf vir die eerste seisoen, en vir ons tweede seisoen het ons nog twee skrywers bygekry.

Wou jy nog altyd in die filmbedryf werk?

Nee. Ek het regte gaan swot en het sommer in die proses gedink ek sal baie geld kan maak (haha). Toe ek op universiteit was het ek deel geword van ʼn stand-up comedy groep. Ek het nog altyd van kultuur gehou en op skool koor gesing, maar eintlik net omdat my ma gesê het ek moet. Ek het al hoe meer van comedy begin hou, en toe eventueel het ek besluit om dit te pursue.

Wat is jou gunsteling teks wat jy al geskryf het?

Dis baie moeilik om te sê wat my gunsteling teks is. Daar is ʼn paar hoogtepunte. Ek dink my kortfilm Vuil Wasgoed is altyd een wat baie na aan my hart sal lê, en dan ook natuurlik Vuil Wasgoed die vollengte fliek. Hotel is ook baie na aan my hart, waarvoor ek en Stiaan Smith ook ʼn Safta gewen het vir beste tekste, wat dit regtig lekker maak as mens se werk erken word. Maar op die ou einde het elke teks ʼn spesiale plek, want elke teks delg ure uit jou lewe uit.

Watter karakter in al die rolle wat jy al vertolk het, sal jy sê is die meeste soos jy?

Ek dink elke karakter het so bietjie van ʼn mens in. Ek sal sê Die Pro se Herman was al baie naby aan my, in terme van Herman wat redelik laid-back is, wat ek ook soms kan wees.

Wat wil jy graag nog in jou loopbaan bereik?

Ek het nie spesifieke drome nie, want ek dink wanneer jy besig is om jou drome te bereik, dat daai proses lekker moet wees. Om by jou droom uit te kom is ʼn byvoordeel. Ek sal graag dalk eendag in ʼn internasionale rol wil speel, en dan natuurlik ook persoonlike drome wat ek wil bereik soos om gelukkig getroud te wees.

Jy en Bouwer Bosch is ook redelik bekend vir julle bromance, en kom al ʼn baie lang pad saam. Wat is die lekkerste aspek om so saam jou vriend te werk, en ook die slegste?

Man ons werk flippen lekker saam, en daar’s geen romanse nie, ons is net lekker bro’s. Ons is vriende wat regtig lekker saam kan werk, en ek dink ook dis juis hoekom dit op skerm werk omdat ons fun het saam. Dis awesome om saam met Bouwer te werk. Ons add op mekaar se sin vir humor, en raak nie sommer jaloers nie, ons gun mekaar, mekaar se plek in die wêreld.

Die moeilikste deel hiervan is, is dat dit regtig een van my beste vriende is saam wie ek werk doen, en mens raak so lief daarvoor om saam mekaar te werk, dat mens nie noodwending net regtig saam hang en chill nie.

Jy het by die Silwerskermfees die toekenning vir die beste akteur ontvang. Hoe het dit gevoel om so toekenning te wen, en kan kykers verwag om jou al hoe meer voor die skerm as akteur te sien?

Ek het dit glad nie verwag nie, ek het nie eers verwag om genomineer te word nie. Komedie word nie altyd ernstig genoeg opgetel nie, en toe ek wen was dit regtig massive gewees vir my. Ek was nog altyd meer lief gewees vir speel, en vir dit om te realiseer was beautiful gewees, so ek is onsaglik dankbaar daarvoor. Ek hoop om meer te speel, maar ek dink dit gaan maar altyd in ʼn kombinasie bly met skryf en regie.

Meeste van die rolle wat jy al tot dusver vertolk het, en die tekste wat jy al geskryf het is baie komiek van aard. Stel jy daaran belang om enigsins eendag ʼn ‘donkerder’ en swaarder teks te skryf of ʼn ernstige en somber rol aan te pak?

Meeste van die goed wat ek tot dusver speel is komies, en ek dink mense cast jou daarin omdat dit jou sterkpunt is, maar soos mens meer vertroud raak met jouself as akteur hoop ek dat ek eendag bietjie van ʼn meer ernstige rol sal speel. Ek hoop en glo dat dit maar altyd ʼn bietjie van ʼn komiese element sal hê, want self die kwaaiste, bedonnerdste mense lag ook so bietjie. Dit maak my bietjie bang en angstig om ʼn donkerder rol aan te pak, maar dit is iets waarmee ek myself nog wil challenge.

Jy is ook baie lief vir houtwerk, en ʼn houtafel wat jy gemaak het het al in die SARIE verskyn. Is daar enige iets wat jy nie kan doen nie?

Ek is baie lief vir goeters regmaak, en skep en kreatief wees. Maar daar is onsaglik baie wat ek nie kan doen nie, en dit maak my mal. Ek kan glad nie kos maak nie, so ek wag maar vir die dag wat ek getroud is sodat ek dit saam met die vrou kan doen.

Bennie Fourie het die toekenning vir die beste akteur by vanjaar se Silwerskermfees ontvang.Vinnige feite:

Pet peeveEk hou nie van mense wat die mood ruin nie.

Gunsteling kos om te eet? Sjoe, baie. Braaivleis, snitchel, nacho‘s, pizza… ek is ook stout vir ʼn stukkie T-bone.

Series wat jy kan binge watchHouse of Cards, Parks and Recreation, American Dad, The Office… Friends.

Rolmodel? My rolmodelle is ʼn klomp van my pelle. Ek kyk baie op na Bouwer en na komiese akteurs soos Jason Bateman. Maar my gesin; pa, ma, boeties en sussie is ook die mense wat my aan die gang hou.

As jy ‘Stellenbosch’ hoor, dan dink jy aan… Kompetisie! Want almal sê Maties is beter as die Puk, maar ek is jammer Maties, die Puk is beter.

 

Foto’s: Justin Dingwall

Translate »
Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial