Ingrid Heÿdenrÿch
’n Nuwe app kan nou help om jou veilig te hou.
Die Stellenbosch-munisipaliteit is besig om Namola uit te toets, ’n app wat gebruik word om noodvoertuie in kennis te stel as die gebruiker van die app in gevaar is.
“Wanneer die app se noodknoppie geaktiveer word, word ’n noodsein na die beheerkamer gestuur wat dan ’n noodvoertuig ontbied. Die aard van die nood sal bepaal of die polisie of munisipale wetstoepassers in kennis gestel en ontbied moet word,” het Mart-Marié Haasbroek, kommunikasiebeampte van die uitvoerende burgermeester, Gesie van Deventer, verduidelik.
Namola se dienste word tans vir ’n proeflopie van ses maande gratis aan die munisipaliteit verskaf.
“Die diensverskaffer het die munisipaliteit genader en hul dienste gratis aangebied as ’n addisionele hulpmiddel om veiligheid te bevorder na aanleiding van onlangse voorvalle van ernstige misdaad,” het Haasbroek gesê.
“Wanneer die proeftydperk verstryk, sal die munisipaliteit besin oor die sukses, koste en hulpbronne wat benodig word.”
Dit is die eerste keer dat Namola in die Wes-Kaap gebruik word. Die app is in Februarie 2015 in die Monument Park-area van Pretoria geloods en word tans in verskeie areas in Gauteng gebruik.
Haasbroek het gesê hoewel daar alreeds ander apps is wat soortgelyke dienste bied, hulle meestal nie gratis vir verbruikers is nie.
“Hierdie toepassing is toeganklik vir alle inkomstegroepe.”
Luidens ’n mediaverklaring wat op 14 Junie 2017 deur die burgermeester uitgereik is, is die Namola-app sedert 15 Junie 2017 vir almal in Stellenbosch beskikbaar, wat beteken dat die gratis-proeftydperk in Desember sal eindig.
Die verklaring het ook gesê dat, soos die munisipaliteit voortgaan om gratis WiFi regoor die munisipale area te implementeer, dit sal help om die app selfs meer toeganklik vir alle inwoners in die area te maak.