Latest Post

Klim en klouter saam by Maties-rotsklim Toco: Can Money Grow on Trees? Breyton Poole leaping to higher heights Neon Dreams lights up South Africa

Ané van Zyl

Private Studente Organisasies (PSO’s) sukkel om toegang te verkry tot die klubhuis wat aan hulle behoort.

Dit volgens Ruan du Toit en Minette Sieberhagen, prims van onderskeidelik Pieke en Aristea.

Volgens Sieberhagen en Du Toit moet die fasiliteit tans met Maties Hokkie gedeel word, wat dit vir PSO’s moeilik maak om die lokaal te benut.

“Ons moet e-posse stuur om die fasiliteit te bespreek, en is dan steeds nie verseker van die gebruik daarvan nie,” het hy gesê.

Volgens Martin Viljoen, woordvoerder van die Universiteit Stellenbosch (US), is die klubhuis tussen twee astro-velde op Coetzenburg aanvanklik gebou vir PSO-aktiwiteite, ’n inisiatief van die destydse Afdeling Studentesake. PSO’s het die fasiliteit met Maties Hokkie gedeel.

“Die PSO-klubhuis is reeds vir baie jare ’n gedeelde fasiliteit. Dit is egter op Coetzenburg gebou en die hokkieklub het met die bou daarvan ingestaan vir ’n gedeelte van die kostes. Die hokkieklub is tans verantwoordelik vir die instandhouding.”

Sieberhagen verduidelik egter dat PSO’s nou moeilik ondervind om fasiliteite te kry om vir geleenthede te gebruik.

“PSO’s besit ’n gedeelte van die fasiliteite, maar kan dit nie doeltreffend gebruik nie omdat Maties Hokkie die gebruik daarvan het,” het sy gesê.

“As ons huisvergaderings of enige ander tipe funksie vir die huis wil hou, moet ons toestemming vra om die fasiliteit te gebruik. Wanneer ons dit wel bespreek, gebeur dit dat hokkiespelers deur die vertrek beweeg. Dit kan baie steurend wees,” het Du Toit verduidelik.

As PSO’s nie die fasiliteit kan gebruik nie, moet hulle ’n alternatiewe lokaal bespreek.

Viljoen sê daar was  ʼn reëling dat die Stal (agter die Danie Craven-standbeeld) gebruik kan word vir spesifieke PSO-aktiwiteite as die klubhuis nie beskikbaar is nie.

Sieberhagen is egter nie bewys van die reëling nie. Volgens Du Toit is die reëling mondelings met hom ooreengekom en het Pieke die afgelope jaar een keer van die Stal gebruik gemaak.

“Om ’n alternatiewe fasiliteit te bespreek kan die PSO baie geld uit die sak jaag, en is nie altyd ’n veilige opsie nie,” het Sieberhagen gesê.

“Van die meisies moet alleen huis toe stap. Die klubhuis is ver van woonstelle af en nie almal het vervoer nie.”

Viljoen het gesê die US is bewus van uitdagings wat sekuriteit betref, nie net in die omgewing van die klubhuis nie, maar rondom die hele Coetzenburg.

“Dit vorm deel van ’n deurlopende evaluering en verbetering van sekuriteit op kampus. Daar is daagliks ’n sekuriteitswag rondom die klubhuis aan diens van laatmiddag tot omtrent 22:30.

“Oor die jare het die hokkieprogram geweldig uitgebrei. Die nuwe kunsgrasbaan is onder meer is gebou, wat gereeld deur besoekende internasionale spanne benut word, terwyl dit ook dien as venue vir byvoorbeeld Varsity Hokkie en dit ook daagliks deur skoolgroepe gebruik word.

“Ongelukkig het dit veroorsaak dat die beskikbaarheid van die klubhuis vir PSO-aktiwiteite onder druk gekom het.

“Die besprekingstelsel is onlangs herevalueer in ’n poging om tot voordeel van albei partye te wees en daar is tans gesprekke met PSO-leierskapstrukture om huidige probleme uit te stryk,” het Viljoen gesê.

Translate »
Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial