Latest Post

Klim en klouter saam by Maties-rotsklim Toco: Can Money Grow on Trees? Breyton Poole leaping to higher heights Neon Dreams lights up South Africa
Personeel van Tygerberg Hospitaal en Project Flamingo doen vrywillig oor naweke operasies. FOTO: PEOPLE MAGAZINE

ARLEEN STONE

Hospitaalpersoneel van die Tygerberg Hospitaal (TBH) en die liefdadigheidsorganisasie, Project Flamingo, offer Saterdae hul vrye tyd op om vrywillig op borskankerpasiënte te opereer.

Hierdie operasies verkort die pasiënte se wagtydperk ná diagnose.

Dr Ilna Conradie, ’n spesialis-konsultant by die chirurgie-afdeling van die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit van Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, en dr Liana Roodt, stigter van Project Flamingo, organiseer sedert verlede jaar verskeie operasies vir borskankerpasiënte met die ondersteuning van verskeie vrywillige mediese personeel.

Tygerberg Hospitaal (TBH):

Conradie was verlede jaar opsoek na ’n manier om die wagtydperk vir borskanker-operasies te verkort en het op Project Flamingo afgekom, wat sedert 2010 soortgelyke operasies by die Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad doen.

Die wagtydperk by TBH is tans drie maande as gevolg van die tekort aan hulpbronne wat hierdie hospitale in die gesig staar, naamlik onvoldoende begrotings, ’n tekort aan personeel en beperkte teatertyd.

“Dit is ondenkbaar dat iemand so lank ná die diagnose moet wag op behandeling. Ons kan nie sit en wag vir iemand anders om die probleem op te los nie,” verduidelik Conradie.

Sy het kort ná haar kennismaking met Project Flamingo met kollegas by TBH gesels en baie van hulle was gretig om te help. Die eerste Saterdag-operasie is in November verlede jaar suksesvol uitgevoer en ’n lys van datums vir 2017 is reeds beskikbaar.

Conradie glo dat, indien alles vanjaar glad verloop, hulle die wagtydperk met minstens ’n maand sal kan verkort.

Project Flamingo:

“Project Flamingo het, soos meeste goeie dinge in die lewe, begin met ’n goeie bottel wyn en ’n desperate e-pos wat in die regte inbox beland het. Toe ek met die hartverskeurende, uitgerekte en dikwels chaotiese reis van ’n borskankerpasiënt gekonfronteer is, het ek besluit iets moet aan die saak gedoen word,” verduidelik Roodt.

Die pasiënte moet dikwels lang wagtydperke trotseer en word dikwels sonder ondersteuning gelaat. Die eenvoudige, effektiewe konsepte van “opvang-operasies” en “troetelpakkies” het hieruit ontstaan.

“Danksy Project Flamingo het die wagtydperk by Groote Schuur hospitaal van 12 weke tot tussen ses en agt weke verminder en ons hoop om binnekort soortgelyke resultate by Tygerberg ook te sien,” sê Roodt.

Samewerking red lewens

Die projek is heeltemal van vrywilligers en skenkings afhanklik. Project Flamingo dek die kostes van die verpleegpersoneel en kos op die dag, terwyl TBH die teaterkostes dek. Danksy die vrywillige werk en skenkings kos dit Project Flamingo tans tussen R3 800 en R4 000 per operasie. Die teaterpersoneel bestaan gewoonlik uit personeel of studente aan die twee hospitale, maar Roodt verduidelik dat lede van privaatpraktyke hulself ook vir die projek beywer het.

Die pasiënte wat by die projek baat, het nie mediese fondse nie en is van openbare sorg (staatshospitale) afhanklik vir alle mediese behandeling. Hoewel die hospitale die kostes van die operasies dek, moet pasiënte steeds ’n bedrag vir hulle opname en nasorg betaal. Die koste word na gelang van die pasiënt se inkomste bereken en kan wissel tussen R13 en R194.

“Borskanker is so algemeen in ons gemeenskap. Meeste van ons ken iemand wat daardeur geraak is. Hierdie projek gee ons almal die geleentheid om ’n werklike verskil te maak,” sê Conradie.

Roodt het ook haar kommer oor die kritieke wagtydperke regoor die land uitgespreek.

“Meer en meer mense raak afhanklik van die staat vir mediese behandeling as gevolg van die stand van ons land se ekonomie. Ons kan nie wanbestuur en korrupsie bekostig nie. Mense se lewens is letterlik op die spel.”

Die twee dokters hoop om in die toekoms die projek na ander hospitale in groot stede soos Johannesburg, Pretoria en Durban, waar daar ’n drastiese behoefte aan so ’n inisiatief is, uit te brei.

Vir meer inligting gaan na:

  • Project Flamingo se webtuiste: projectflamingo.co.za
  • Facebook: projectflamingosouthafrica
  • Om by die projek betrokke te raak, kontak Conradie by ilnaconradie@sun.ac.za

Geskeduleerde operasies vir 2017 by Tygerberg Hospitaal:

  • 10 Junie – Enkellys
  • 5 Augustus – Enkellys
  • 21 Oktober – Enkellys
  • 25 November – Dubbellys (twee teaters sal oop wees)
Translate »
Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial