Latest Post

Ramadan – One month of fasting for a reward everlasting Klim en klouter saam by Maties-rotsklim Toco: Can Money Grow on Trees? Breyton Poole leaping to higher heights

Hulle is die new kids on the block in Suid-Afrikaanse musiek. As Sunset Sweatshop maak Ian Heyns, Rossouw Wentzel, Victor Green, Duke Negus en Richard Dicks musiek wat enige iemand op hul voete sal kry. Elodi Troskie het met hulle gesels.

Ian en Rossouw het lank saam by funksies en verjaarsdae opgetree, maar het meestal reeds bestaande musiek gespeel. Hulle het besluit dis tyd om hul eie musiek te maak en het vir Richard en Victor nadergetrek om saam met hulle te begin speel. So is Sunset Sweatshop in Oktober 2016 gevorm en Duke het onlangs by die groep aangesluit.

Die groep se eerste vertoning was by die LlamaLand-fees in Pringlebaai,  ’n nuwe inisiatief wat ook in 2016 begin het. Sedertdien het hulle by talle feeste en funksies opgetree. In Stellenbosch het hulle onder meer al by die Craft Beer Fees, Nemesia se Koeksisterfees en ook Bohemia vermaak verskaf.

Al vyf lede van die groep hou hulself bedags met ander werk besig en só op die naam, Sunset Sweathop, besluit, aangesien hul musiek iets is wat hulle byna slegs saans na werk kan doen.

Victor en Ian werk albei in familiebesighede. Rossouw is tans besig met sy honneurs in Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Stellenbosch (US) en is ook ’n tutor in dié departement. Hulle beskou hul musiek as ’n uitlaatklep ná ’n lang dag by die werk en hoop om in die toekoms dit as ’n voltydse beroep kan beoefen.

Sunset Sweatshop het vroeër vanjaar hul eerste enkelsnit, “Move It”, tesame met ’n musiekvideo vrygestel wat deur Stephan Fourie en Anne Gonshorek verfilm en uitgereik is.

“Move It” het tot dusver baie goeie terugvoer ontvang en het vinnig opgang op PukFM asook Bok Radio se lyste van gewildste liedjies gemaak. Die musiekvideo is in die Kaap verfilm en volg die band deur die stad waar hulle saam met enige iemand dans wat lus is om by hulle aan te sluit.

“Die video is realiteit. Dis hoe mense voel wanneer hulle die song luister,” sê Rossouw.

Die volgende enkelsnit, “Rolling with the punches”, is reeds opgeneem en word in September uitgereik. Volgens die groep is dié snit heeltemal anders as die Afrika-indie-styl van hul eerste liedjie.

“Dis ’n eighties rock and roll. Mense wat van ‘Move It’ gehou het, gaan verwag dat ons dieselfde tipe ding gaan doen, so dit gaan hulle bietjie skok. Dan kry ons weer ’n ander tipe crowd in,” sê Ian.

’n Demosnit, “Headlights” is ook intussen op SoundCloud vrygestel vir aanhangers wat nie tot September kan wag nie.

Dit is moeilik om Sunset Sweatshop as ’n spesifieke genre te klassifiseer aangesien hulle so ’n wye verskeidenheid musiek speel.

“Ons speel musiek wat lekker is en as dit ’n catchy tune het, maak dit nie eintlik saak watter genre dit is nie. Ons open met rock and roll dat die mense skrik en dan gee ons vir hulle iets sagter. Ons speel wat ons voel.”

Al is hul musiek hoofsaaklik Engels, is die groep baie divers en het hulle ook ’n Afrikaanse liedjie wat vir Afrikaanse gehore gespeel word. Daar is selfs ’n bietjie Xhosa in een van hul ander liedjies.

Die groep het opgelet dat mense van alle ouderdomme die musiek by vertonings geniet.

Volgens die groep kan “jou ma-hulle dit kom kyk. Jou ouma kan dit kom kyk. Jy kan jou kind saambring. En is daar iets vir almal.”

Sunset Sweatshop se grootste optrede tot op hede was by die Splashy Fen musiekfees in KwaZulu-Natal. Dis die oudste musiekfees in Suid-Afrika en was ook een van die groep se hoogtepunte sedert hulle saam begin optree het.

Hulle is ook in Januarie 2018 by die 28ste Up The Creek-musiekfees in Swellendam te sien, waar onder andere The Kiffness, Nomadic Orchestra, Southern Wild en Bongeziwe Mabandla ook gaan optree.

Die fees is ’n jaarlikse instelling sedert 1990 waar feesgangers langs die Breederivier buite Swellendam kamp terwyl hulle die musiek van meer as 40 bands en kunstenaars geniet.

Wat is die toekomsplanne vir Sunset Sweatshop?

“Ons sal net sê: hou ons dop.”

Sunset Sweatshop tree Saterdag 29 Julie by Aandklas op. Kaartjies word teen R40 by die deur verkoop en die band sal vanaf 23:00 op die verhoog wees, ná SKDP en Gerry Liberty.

 

Translate »
Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial