Aucamp Aucamp is bekend vir sy rolle in Ballade vir ’n Enkeling en Die Boekklub. Dané Dooge het met hom gepraat oor wat hom motiveer en sy toekoms as akteur.
Die Boekklub het nou onlangs weer op kykNET begin. Wat kan kykers in die seisoen verwag?
Die tweede seisoen is ʼn wonderlike voortsetting van die eerste seisoen. Daar is ook ʼn paar nuwe kleurvolle en interessante karakters waarop die kykers beslis gaan verlief word en hulle sal dieper in die lewens van sommige van die oorspronklike karakters ingeweef word.
Dink jy Lillie en Tom gaan ooit weer bymekaarkom, en sou jy hulle as “soulmates” beskryf?
Ek dink daar is baie soulmates daar buite vir enige iemand, nie net een nie. Tom en Lillie moes definitief ’n pad saam stap, hulle albei moes iets van mekaar af leer, dus was hulle paaie bestem om te kruis. Of hulle nou nog bymekaar gaan opeindig, sal die kyker maar self moet sien.
Wat is jou raad aan dramastudente?
Doen dit vir die liefde van storie-vertel. As jy met liefde te werk gaan, sal dit in al jou werk deurskyn en dit is soos ʼn magneet vir enige gehoor – hulle sal jou passie saam met jou ervaar en daar is niks meer aantreklik as dit nie. Dít, geduld en deursettingsvermoë.
Wat is die beste raad wat iemand vir jou al gegee het?
Moenie dink enige werk is benede jou nie, jy weet nooit watter ander geleenthede daaruit kan ontstaan nie.
Op watter ouderdom het die dramagogga jou gebyt en het jy besluit jy wil ’n akteur word?
Ek wou nog altyd drama swot, maar ek was aanvanklik baie senuweeagtig daaroor. Ek het gedink dat as ek probeer, en ek nie goed genoeg is nie, dan sal ʼn droom vernietig word. Maar gelukkig het ek daardie vrees oorkom toe ek 19 was en by City Varsity begin swot het.
Wat inspireer en motiveer jou?
Goeie films. As ek ooit voel ek kort ʼn vinnig skop in die gat, dan kyk ek ʼn goeie film en dan is ek weer reg om aan te gaan.
Wat lê vir jou voor in die toekoms as akteur?
Ek begin eersdaags aan ʼn nuwe reeks vir KykNET werk, KnapseKêrels, ’n aksie-komedie. Dit word in Januarie vrygestel. Ek sal ook graag ʼn paar maande ’n jaar in die buiteland wil gaan werk.
Van jou rolle wat jy al vertolk het, byvoorbeeld Jan van Riebeeck (Krotoa), Jacques Rynhard (Ballade vir ʼn Enkeling) en Tom (Die Boekklub), wie sal jy sê is die meeste soos jy?
Definitief Tom! Ek het nou al soveel tyd in sy skoene spandeer dat ek self nie altyd seker is waar wie begin en waar wie eindig nie. Ons is altwee koffie-obsessed-semi-hipsters… HA!
Het jy ʼn droomrol? Wie of wat sal jy graag eendag wil speel?
Ek sal graag eendag in ʼn superhero-franchise wil speel. Iets soos Superman.
As jy Stellenbosch hoor, wat is die eerste ding wat in jou kop spring?
WYN!