Latest Post

Klim en klouter saam by Maties-rotsklim Toco: Can Money Grow on Trees? Breyton Poole leaping to higher heights Neon Dreams lights up South Africa

Arleen Stone

Die Universiteit Stellenbosch (US) moet opdok ná ’n student ernstig beseer is in brand in 2007.

Izak Potgieter, wat toe ’n derdejaarstudent en inwoner van Eendrag was, is verlam ná hy uit sy kamervenster gespring het toe ’n brand op 9 Augustus 2007 die derde verdieping van die koshuis verwoes het.

Daar is bevind dat die universiteit vir Potgieter se beserings aanspreeklik is en gelas dat die US skadevergoeding en sy regskoste moet betaal. Die bedrag sal nog bepaal word.

Volgens hofdokumente was die oorsaak van die brand moontlik ’n ongebluste sigaret wat op een van die koshuis se balkonne gelos is. Anina Burger, ’n forensiese brandinspekteur, meen dat die stompie nie behoorlik geblus is nie en in ’n vullisdrom gelaat is om te smeul. Die meublement op die balkon was van hoogs vlambare materiaal.

Meeste inwoners het steeds geslaap en het die brandalarm nie gehoor nie. Sommige inwoners, onder andere die onder-prim André Coetzee, het tevergeefs probeer om die brand te blus, maar gou besef dat die koshuis ontruim moes word.

Inwoners op die derde vloer was van die laastes om te ontruim. Potgieter en sy kamermaat, Servaas Fick, moes vanuit hulle kamervenster op die derde vloer van die koshuis na veiligheid spring. Beide is in die hospitaal opgeneem.

Fick het ligte brandwonde opgedoen en is dieselfde dag nog ontslaan, maar Potgieter het die kort afdakkie bo die tweede verdieping se vensters tydens sy sprong getref en daarna grond toe geval. Hy het sy rug en nek beseer en is sedertien verlam.

Die Wes-Kaapse Hooggeregshof  het einde verlede jaar bevind dat die US aanspreeklik is vir skadevergoeding aan Potgieter.

Potgieter het in sy saak aangevoer dat die US verplig is om seker te maak dat die regte veiligheidsmaatreëls toegepas word om die studente se veiligheid te verseker.

Volgens die hofstukke is die regte veiligheidsmaatreëls en –opleiding nie aan inwoners verskaf nie en dat geen brandmure in die spitsdakruimte van die koshuis, direk bo die derde verdieping se kamers, geïnstalleer is nie. Dit sou keer dat ’n brand deur die dak versprei.

Potgieter het ook aangevoer dat die US reeds ná ’n soortgelyke brand in 1983 by die vrouekoshuis Huis ten Bosch geneem moes word. Huis Ten Bosch het ’n soortgelyke dakstruktuur aan dié van Eendrag gehad.

Die US het eers in 2011 ’n projek van stapel gestuur om veiligheidsmaatreëls by koshuise op te skerp.

Translate »
Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial