Latest Post

Klim en klouter saam by Maties-rotsklim Toco: Can Money Grow on Trees? Breyton Poole leaping to higher heights Neon Dreams lights up South Africa

Wianda Gilliland

Om ’n eerstejaar ’n eerstejaar te noem, is blykbaar deesdae taboe op kampus.

Dié woord is saam met terme soos jool, jarre en skakels met meer inklusiewe en neutrale terme vervang. Die “neutrale term“ wat vir eerstejaars gekies is, is nuwelinge.

Die 2DO-program is vanjaar deur die Frederick Van Zyl Slabbert-instituut vir HK-lede, mentors en tweedejaarskomitees aangebied om veranderinge aan die verwelkomingsprogram te verduidelik. Daar is gepoog om terme soos jool, jarre, skakels en eerstejaars te elimineer en te vervang met onder meer MAD² (vir jool) en socials (vir skakels).

Volgens ’n mentor van Simonsberg, Micheal Knoetze, is die rede agter dié veranderinge grootliks inklusiwiteit en om nuwe Maties meer gemaklik te laat voel sodat hulle vinnig kan aanpas.

Olivia Bernstein, voorsitter van Minerva se tweedejaarskomittee, meen tradisie is belangrik omdat dit Maties laat deel voel van iets, maar as daardie tradisie iemand aanstoot gee doen die tradisie eintlik die teenoorgestelde en sluit dit sommige Maties uit.

Daniël du Plessis, Dagbreek se prim, sê baie het verander vandat hy in 2014 ’n eerstejaar was.

“Nuwelinge word nou slegs in Engels toegespreek om te verseker dat almal alles verstaan. Sosiale geleenthede (skakels) het ook meer divers geraak,” het hy gesê.

Hy het bygevoeg geleenthede soos Vensters moet bly omdat eerstejaars dit baie geniet, maar dat dit in die toekoms meer finansieël volhoubaar moet wees.

“Ek dink dis immers die Universiteit Stellenbosch se droom om te sien hoe die verskeie gemeenskappe self die nood vir veranderinge raaksien en terselfde tyd ook mening kan toepas wanneer die goeie behou word.ˮ

Cindi Pretorius, een van Minerva se verwelkomingsleiers vanjaar, voel baie sterk oor die feit dat alle verwelkomingsprogramme, met of sonder verandering en tradisies, op die einde dieselfde doel het – om nuwelinge gemaklik te laat inskakel en trots te wees op die koshuis of PSO waarvan hulle deel is.

Pretorius is veral gelukkig oor die tyd wat vir gemeenskapdiens gemaak is, maar sy meen ook dat Vensters finansieël beter bestuur kan word.

Die FVZS-instituut het teen druktyd nie gereageer op navrae oor hulle 2DO-sessies nie.

Translate »
Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial