S.Z. Minnaar & Janke van Schalkwyk
Vyf toneelstukke sal sake vanaand in die eindstryd van KuKo se jaarlikse Toneelfees uitspook.
Helderberg, Eendrag en Nemesia se Die Les of Hoekom is die badkamer se vloer nat? en Metanoia se Dear Mister Fugard is die gunstelinge om vanjaar met die louere weg te stap, met onderskeidelik sewe en ses benoemings.
Die fees se uitdunrondes het verlede week plaasgevind en studente van verskeie koshuise en PSO’s altesaam 24 toneelstukke op die Drostdy-teater se planke gebring.
“Vanjaar se standaard was uitstekend,” sê Lehandi Eygelaar, projekbestuurder van Toneelfees.
“Daar sal altyd een of twee groepe wees wat net deelneem vir die kamerpunte, maar die meerderheid stukke was regtig fantasties. Die beoordelaars was ook baie beïndruk en wou graag van die potensiaal wat hulle op die verhoog gesien het, help ontwikkel.”
Eygelaar sien Toneelfees nie eintlik as ’n kompetisie nie.
“Ons sien dit eerder as ’n platform vir potensiaal en talent. Dit is ’n plek waar studente kan kom leer en ontwikkel en ook bietjie afshow.”
Kristhoff Krige, voorsitter van KuKo, is veral bly dat so baie koshuise en PSO’s nog passievol oor toneelspel is. Hy sê die bywoning was ook vanjaar goed.
“Die gehore het dit baie geniet en ek dink dit is te danke aan vanjaar se lekker tema, a touch of laughter. Ons het daarmee probeer wegskram van die ernstige, oordramatiese teater waarby almal nie noodwendig aanklank vind nie.”
Krige meen ook dat vanjaar se stukke beslis van ’n hoër gehalte as vorige jare was en die kompetisie strawwer.
Ander stukke wat ook deurgedring het, is Dagbreek en Monica se Johnny is nie dood nie, Helderberg en Nemesia se Boer soek ’n vrou en Metanoia en Venustia se Up Size.
Wat benoemings betref, staan Die Les of Hoekom is die badkamer se vloer nat? met sewe benoemings in die eerste plek. Naas toneelspel en regie, het dit ook benoemings ontvang vir die beste teks, ensemble en tegnies.
Dear Mister Fugard is met ses benoemings ’n kortkop agter. Die stuk het benoemings vir toneelspel ontvang, asook vir die beste regie, ensemble en teks.
Drie toneelstukke het elk drie benoemings ontvang, naamlik Boer Soek ’n Vrou (beste vroulike byspeler, manlike byspeler en teks), Up Size (twee beste aktrise benoemings en beste teks) en Johnny is nie dood nie (beste aktrise, ensemble en tegnies). Daar is verder twee toneelstukke wat elk twee benoemings ontvang het, naamlik TRONK (beste akteur en teks) en The Most Massive Woman Who Wins (beste aktrise en regie).
Die eindstryd vind vanaand by die Drostdy-teater plaas en die eerste vertoning begin om 18:00. Kaartjies sal by die deur teen R50 vir studente en R70 vir die publiek te koop wees. Kaartjies sluit eethappies en ’n glas wyn in.
Beste aktrise
- Carla Smith – Dear Mister Fugard (Metanoia)
- Devonicia Swartz – Dear Mister Fugard (Metanoia)
- Nane Zietsman – Up Size (Metanoia & Venustia)
- Anke Cullinan – Up Size (Metanoia & Venustia)
- Kristin Pienaar – Die Les of Hoekom is die badkamer se vloer nat? (Helderberg, Eendrag & Nemesia)
- Marichje de Necker – The Most Massive Woman Who Wins (Serruria)
- Shannon Munn – Johnny is nie dood nie (Dagbreek & Monica)
Beste akteur
- Daylan Leibrandt – Dear Mister Fugard (Metanoia)
- Cantona James – TRONK (Simonsberg & Helshoogte)
- Andries Meyer – Die Les of Hoekom is die badkamer se vloer nat? (Helderberg, Eendrag & Nemesia)
- Hendrik Nieuwoudt – Die Les of Hoekom is die badkamer se vloer nat? (Helderberg, Eendrag & Nemesia)
- Z. Minnaar – Jade & William (Simonsberg & Equité)
Beste vroulike byspeler
- Dané de Waal – Boer soek ‘n Vrou (Helderberg & Nemesia)
- Anmari Oosthuizen – Rooi (ISA)
Beste manlike byspeler
- Khetho Tshipalah – 60 Seconds To Love (Goldfields)
- Frittz Beumann – Persoonlikheid in ‘n bottel (Nerina & Wilgenhof)
- Franco Bassi – Boer soek ‘n Vrou (Helderberg & Nemesia)
Beste regie
- Nane Zietsman – Dear Mister Fugard (Metanoia)
- Reuben Murphy – Die Les of Hoekom is die badkamer se vloer nat? (Eendrag, Nemesia & Helderberg)
- Marichje de Necker – The Most Massive Woman Who Wins (Serruria)