Latest Post

Ramadan – One month of fasting for a reward everlasting Klim en klouter saam by Maties-rotsklim Toco: Can Money Grow on Trees? Breyton Poole leaping to higher heights

André Huisamen

Ná vanjaar se baie suksesvolle Varsitybeker-veldtog, het Maties in die eindstryd teen hul aartsvyande van Pretoria vasgeval.

Die twee spanne was loshande die beste twee spanne in die kompetisie en dit was daarom gepas dat hulle die verhoog in die eindstryd gedeel het. Tuks het bo-aan die punteleer geëindig en was voor die wedstryd beslis die gunstelinge om met die louere weg te stap.

Maties het egter sterk begin met ’n goeie drie deur Janco Venter. Vir die res van die eerste helfte was hul ook in beheer van die stryd, grootliks te danke aan die enorme skopskoen van Tiaan Swanepoel.

Tuks het deurentyd voorlangs sterk gelyk en ’n mens het die gevoel gekry dat die momentum van die stryd dalk sou swaai. Dit het  toe wel in die tweede helfte gebeur. Tuks het vroeg punte aangeteken en vir die res van die wedstryd was hul stert in die lug met ’n sterk pak voorspelers wat die momentum aan die rol gehou het. Verlede jaar was Maties ongelukkig om in die eindstryd te verloor, maar hierdie jaar kan hul regtig met hul poging tevrede wees.

Die resultaat vat egter geensins weg van die fantastiese seisoen wat Maties gehad het nie.

Die afrigter, Hawies Fourie, verdien ook gelukwense vir twee goeie seisoene onder sy leiding.

Maties se kaptein, Craig Barry, voel dat die eindstryd hulle nie as ’n span definieer nie.

“Dit is baie hartseer dat ons verloor het, maar ons seisoen kan nie gemeet word aan die eindstryd nie. Ek glo ons het ’n wonderlike kultuur geskep en dat die spelers ongelooflik gedurende die seisoen ontwikkel het. Ons het hierdeur nou ’n platform geskep waarop daar net gebou kan word in die toekoms.

“Die feit dat daar baie spelers weer volgende seisoen kan speel, sal hiermee help”.

Hy het verder gesê hy is dankbaar vir die fantastiese ondersteuning wat hulle dwarsdeur die seisoen ontvang het.

Barry het die groot eerbewys ontvang om as kaptein gekies te word vir die  Varsitybeker-droomspan. Die span is ’n samestelling van die grootste uitblinkers in die kompetisie. Maties se Duncan Saal, Kobus van Dyk, Johan Momsen, Ernst Stapelberg, Michal Haznar en Fredri Gunter (spanbestuurder) sal saam met hom die droomspan verteenwoordig.

Translate »
Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial