Latest Post

Ramadan – One month of fasting for a reward everlasting Klim en klouter saam by Maties-rotsklim Toco: Can Money Grow on Trees? Breyton Poole leaping to higher heights

Nina Fouché

Met ’n versameling Eisteddfod-toekennings, sy televisiedebuut onder die belt en ’n geleentheid om in New York te studeer, het Jeandré Spies al klaar vir homself ’n naam in die dramabedryf gemaak. Die Matie het met hom gesels oor die “gogga” wat hom gebyt het, Hans Strydom en die New York Film Academy.

Jeandré beskryf homself as “ ’n doodgewone ou”. Hy is in die Kaap gebore en by Hoërskool Tygerberg matrikuleer, maar die dramagogga het hom in graad een reeds gebyt, toe hy ’n gedig “wat oor hoenders gegaan het” by die Eisteddfod moes voordra. Hy het hoogste lof hiervoor verwerf. Tydens sy hoërskoolloopbaan het hy aan die skool se revues deelgeneem en ook toneel gedoen. Hy meen toneel is die beste manier om leerders uit hulle gemaksone te haal.

“Ons skool was baie bekend daarvoor dat ons absurde teater gedoen het, terwyl die bekendste vorm in skole gewoonlik realisme is,” vertel hy.

Hy het egter nie altyd baie ondersteuning by sy familie oor sy beroepskeuse ontvang nie.

“Daar is mos hierdie ding dat daar nie geld in die kunste is nie,” sê hy.

Hy glo egter dat hy elke oggend wil opstaan en opgewonde wees om te gaan werk en sy ma het mettertyd besef dat daar nie meer omdraaikans is nie.

“My ma is nou my grootste fan en die beste momager,” het hy gesê.

Toe hy boonop in 2014 kans gekry het om New York te besoek, is die bal werklik aan die rol gesit. Hy het direkteurs van Amerika se grootste produksiehuise, onder meer Disney, ABC en CB, ontmoet. Ná hierdie ontmoetings het hy met die New York Film Academy kontak behou en in 2015 ’n oudisie afgelê.

“Ek was die enigste mens in die land wat die beurs ontvang het,” vertel hy.

Wat mense egter nie weet nie, is dat die beurs slegs ’n derde van sy studiegeld in Amerika sou dek. Verblyf en ander lewenskostes sou hy self moes betaal en dit sou sy familie te duur uitgewerk het.

“Dit was natuurlik my eerste keuse, maar jy moet ongelukkig verder as dit dink,” sê hy.

Marion Holm, die bekende aktrise en komediant, het hom gemotiveer om sy studies in Suid-Afrika te voltooi.

“Sy het vir my gesê om eers seker te maak dat my fondasie goed gelê is en dan kan ek my vlerke sprei en vlieg,” vertel hy. Hy is baie gelukkig in Stellenbosch en sê hy het van die beste mense ontmoet wat sy loopbaan kan verryk en bevorder.

Oor sy televisiedebuut in Die Boekklub mag hy nog nie veel sê nie.

“Al wat ek kan sê, is dat dit die wonderlikste ervaring was wat ek dusver in die bedryf gehad het.”

Hy het ’n lang lys van akteurs saam met wie hy graag in die toekoms sal wil werk, maar héél bo aan sy lys is Hans Strydom, wat deesdae die rol van At Koster in Binnelanders vertolk..

“Wanneer jy na hom kyk, is hy so vasgevang in dit wat hy doen. Ek sal baie graag by hom wil leer,” sê Jeandré.

Sy doelwit vir sy beroep is eenvoudig:

“Ek as akteur wil ’n rol skep wat mense se lewens verander. Of wat ’n verandering in ons wêreld bring. Ek wil nie net ’n werk kies wat vir my die grootste hoeveelheid geld gaan gee nie.”

Translate »
Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial