Nelrine Beyers
Geen byeenkomste sal vanjaar op Coetzenburg se atletiekbaan gehou word nie.
Die tuiste van Maties Atletiek is besig om uitgebreide opgraderings van sowat R40 miljoen te ondergaan en Maties se atlete kan nog net tot 1 Augustus op die baan oefen.
Die opgradering is by verlede jaar se atletiekprysuitdeling die eerste keer aan die atlete genoem en sowat drie weke terug bevestig.
Volgens Nienka du Toit, die Suid- Afrikaanse junior sewekamp kampioen wat al meer as vyf jaar op die baan oefen, is die opgraderings wel nodig.
“Die baan is al verskriklik oud en bietjie uitgehardloop, iets wat ’n probleem kan raak as ’n mens byvoorbeeld groot byeenkomste wil aanbied,” het Du Toit gesê.
Die atletiekbaan word tans op sekere dae gesluit, wat vooraf met atlete gekommunikeer word. Alternatiewe opsies soos Bloemhof Meisieskool se atletiekbaan en die Dal Josaphat-atletiekbaan in Paarl word ook oorweeg.
Du Toit meen atlete gaan vir die volgende jaar saam moet werk en aanpasbaar moet wees.
Nog ’n lid van die Maties Atletiekklub, Janke van Wyk, het gesê die paviljoen, klubhuis, kantore en kleedkamers word eerste opgradeer.
Van Wyk het verduidelik die opgradering van die baan self sal eers later in die jaar gebeur en dus nie nie die atlete baie verontrief nie.
“Ná 1 Augustus is dit winterseisoen vir ons atlete. In die winterseisoen is dit juis beter om bietjie van die baan af te kom en meer op gras te oefen. Dit maak jou bene sterk,” het Van Wyk gesê.
Sy het verder genome dat die atlete betrek is by die opgrdaderingsproses en hul opinies en idees oor die veranderinge gevra is.
“Ons het dinge, soos die ligging van die verspringputte op die nuwe baan en die plekke waar hulle die mure moet bou, bespreek by die eerste atletiekvergadering vanjaar,” het Van Wyk gesê.
Die opgradering sal na beraming teen Desember 2017 voltooi te wees.