Ingrid Heÿdenrÿch
Wat gaan ons verloor as die Universiteit Stellenbosch (US) Afrikaans as onderrigtaal afskaf? Dít is die vraag wat Mercy Kannemeyer in haar dokumentêr, Die Ander Kant, vra.
Kannemeyer is ’n student aan die US wat tans besig is met haar honneurs in drama en teaterstudie. Volgens haar probeer die dokumentêr lig skyn op ’n onderwerp wat lank “met soveel donkerte” hanteer is.
“Ek het besef mense skroom daarvan weg om van Afrikaans te gesels omdat dit ’n swaar onderwerp is en omdat dit vir so baie mense emosioneel is,” het Kannemeyer gesê.
Wat veral vir Kannemeyer belangrik was, was om uit te lig dat nie nét wit, Afrikaanse studente geraak sal word indien daar sou besluit word om Afrikaans by die US heeltemal af te skaf nie, maar bruin Afrikaanse studente ook.
“Die Ander Kant probeer as’t ware ondersoek instel na die kant wat stilgemaak is vir so lank. Bruin stemme word nie gehoor nie, omdat daar nie altyd ruimte is vir bruinmense om hul stem te laat hoor nie,” verduidelik sy.
In die dokumentêr gesels sy met ’n verskeidenheid mense om verskillende opinies oor die taalkwessie te kry.
“Nie slegs akademici nie en nie slegs skrywers of studente nie, maar ’n groep mense wat vir ons die volle spektrum van die argument kon gee,” verduidelik Kannemeyer oor hoe sy besluit het met wie sy wil praat in die dokumentêr.
Prof. Wim die Villiers, rektor en vise-kanselier van die US, Helen Zille, die premier van die Wes-Kaap en Danie Marais, die bestuurder van PEN Afrikaans, maak almal ’n verskyning.
In die dokumentêr word daar ook met studente aan die US gepraat wat beskryf hoe die meeste hulle klasse in Engels aangebied word, ten spyte daarvan dat die universiteit aan hulle gesê het dat die beleid van 50% Afrikaans en 50% Engels toegepas word.
Kannemeyer dink egter nie dat die universiteit die taal as heeltemal onbelangrik ag nie. “Anders sou hulle lankal Afrikaans net afgeskaf het en aanbeweeg het.”
Bowenal wou Kannemeyer deur die dokumentêr wys waarom moedetaalonderrig so belangrik is.
“Ek wil dit net duidelik maak dat ek besef Afrikaans het die infrastruktuur om behoue te bly, waar die ander ampstale eers opgebou moet word binne die akademie. Sulke tale is vir so lank ook stilgemaak en dit is sleg. En dit is regtig my wens dat almal in die taal van hul keuse kan studeer.”