Latest Post

Ramadan – One month of fasting for a reward everlasting Klim en klouter saam by Maties-rotsklim Toco: Can Money Grow on Trees? Breyton Poole leaping to higher heights

Elodi Troskie

Sy beskryf haar styl as dié van ’n vierjarige kind wat haarself moes aantrek, het ’n mak skaap met die naam “Wolraad”, gesels gereeld met bekendes op skerm terwyl sy in haar slaapklere in die bed sit en word as ’n ikoon vir jong skrywers beskou.

Bibi Slippers is die inhoudsregisseur van die televisieprogram Flits en ook die vervaardiger en aanbieder van haar eie kletsprogram, In die bed met Bibi. Sy het onlangs haar debuutbundel, Fotostaatmasjien, vrygestel.

Sy was nog altyd lief vir tale en die kunste en is van kleins af gebrandmerk as “die enetjie wat kan skryfˮ.

Reeds in Graad 2 het ’n onderwyseres ná ’n opstel voorspel dat Bibi ’n skrywer sou word, maar sy moes egter vinnig leer dat jy nie noodwendig ’n boek kan skryf bloot omdat iemand op skool gesê het jy kan goed skryf nie.

Haar belangstelling in drama, teater en musiek het haar reeds in die laerskool bekendgestel aan poësie en haar gedigte is die eerste keer in Digby, ’n destydse projek van Die Burger, gepubliseer. Kort daarna is haar werk ook in Nuwe Stemme 4 gepubliseer, een van ’n reeks digbundels wat dien as publikasieplatform vir aspirerende digters.

“Dit was die begin vir my. Om te verstaan dat ʼn gedig nie net die eerste paar dinge is wat jy dink nie. Dis ʼn craft en jy moet verskriklik hard werk om op die ou end iets te kry,ˮ sê sy.

Sy is op die oomblik een van die samestellers van Nuwe Stemme 6, wat later vanjaar uitgebring word.

Sy het twee BA-grade in onderskeidelik kuns en tale aan Universiteit Pretoria verwerf en het haar meestersgraad by Universiteit Stellenbosch (US) voltooi.

Haar meestersgraad in Kreatiewe Skryfkunde aan die US het sy onder leiding van Willem Anker en Marlene van Niekerk begin.

Haar studies het die skryf van ’n publiseerbare teks vereis. Bibi het opdrag ontvang om ’n gedig ter ere van Adam Small te skryf en toe sy ná ʼn lang week sonder inspirasie vyftien fotostate van sy gesig het, maar steeds geen gedig nie, het die konsep van die fotostaatmasjien as breë metafoor ontwikkel.

Die bundel speel met die idee dat dit naby aan onmoontlik is om in 2017 iets oorspronkliks te skep.

Fotostaatmasjien is deur Tafelberg Uitgewers uitgegee, onder leiding van Tertius Kapp. Een van die grootste veranderinge wat hy aan die manuskrip gemaak het, was om Bibi se sowat veertien kat-verwante gedigte uit te sny.

“Hy het gesê daar is geen manier wat hy my publiseer daarmee nie. Ek is maar in my early thirties. Ek kan nie nou al die crazy cat lady van die Afrikaanse digkuns word nie.ˮ

Die ontwerp en estetika van Anne Carson se boek, Nox, asook die maklike bereikbaarheid van popmusiek was Bibi se groot inspirasie.

“Ek wou gedigte skryf wat werk met die accessibility van ’n pop song. Dit moet almal intrek. Almal moet wil dans as ek begin speel.ˮ

Oor haar toekomsplanne sê Bibi dat sy skaars ’n vyf-minuut-plan het. Sy beoog egter om tot April te wag voor sy weer begin skryf.

Haar raad vir studente en jong skrywers?

“Kry soveel as moontlik ondervinding terwyl jy swot. As jy ’n balans kan vind tussen ’n bietjie van ’n sosiale lewe op universiteit en heelwat ekstra werk, sodat jy ondervinding het die dag wat jy klaar studeer het en dit nie hoef te gaan soek nie – dit maak ’n groot verskil.ˮ

Flits word op Donderdae om 22:00 op KykNet uitgesaai en In die bed met Bibi op Sondae om 14:00 op Via.

Translate »
Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial