Ingrid Heÿdenrÿch

Die lettere en sosiale wetenskappe fakulteit van die Universiteit Stellenbosch (US) is onder ernstige finansiële druk en veranderinge gaan aangebring moet word om die finansiële volhoubaarheid van die fakulteit te verseker.

“Die fakulteit het ’n duik in die begroting. Ons sukkel om die bedryfskostes en ander groot kostes te dek,” het prof Anthony Leysens, waarnemende dekaan van die lettere en sosiale wetenskappe fakulteit, gesê.

“As die fakulteit ’n besigheid was, sou mens kon sê dat dit ’n verlies gely het of net gelyk gebreek het.”

Vrae oor die fakulteit se finansiële toestand het opgeduik ná daar aan ’n tweedejaar-sielkunde klas gesê is dat hulle nie hierdie semester opstelle gaan ingee nie, omdat dit te duur is.

Volgens prof Awie Greeff, voorsitter van die sielkunde departement, het die departement egter wél fondse om merkers te betaal.

“Daar is besluit om nie opstelle vir die studente te gee nie, maar dit is omdat ons die module meer stroombelyn wil maak en meer van tegnologie gebruik wil maak.

“Dit was ’n tydelike dosent wat dit aan studente gekommunikeer het en dit is jammer dat dit toe so oorgedra is. Dit was wel deel van die plan om slegs een assessering vir studente te gee, wat ’n toets is. Twee assesserings sou die opstel insluit.”

Gerugte het ook die ronde gedoen dat tutoriaal-klasse in die toekoms afgestel gaan word, omdat die fakulteit nie geld daarvoor het nie.

Leysens het egter gesê dat dit “eenvoudig nie so is dat daar nie geld is vir die tutoriaal-projekte nie, maar hoe dit gaan befonds word in die toekoms is ’n interessante vraagstuk.”

Die rede vir die druk waaronder die fakulteit verkeer, is as gevolg van die uitsette van die fakulteit van twee jaar gelede.

“Die grootste inkomste wat die fakulteit kry is van subsidies wat deur die staat aan die US verskaf word. Die hoeveelheid van hierdie subsidies wat aan fakulteite gegee word, word volgens die uitsette van elke fakulteit bereken. Dit sluit in die hoeveelheid studente wat vir kursusse ingeskryf is, navorsing van dosente wat gepubliseer word, studente wat hulle voorgraadse kursusse slaag, volledige tesisse wat voltooi word ensovoorts,” het Leysens verduidelik.

Die subsidies word uitgewerk op ’n tweejaarsiklus, wat beteken dat die fakulteit se uitsette van twee jaar terug bepaal hoeveel geld van subsidies hulle hierdie jaar gaan ontvang. Dit is dus die uitsette van die fakulteit van 2015 wat veroorsaak het dat daar vanjaar druk op die fakulteit is.

Volgens Leysens het die fakulteit wel ’n uitgewerkte plan van aksie om die duik in die begroting te oorkom. Daar word egter steeds aan planne gewerk om die druk op die fakulteit te verlig.

“Daar moet gekyk word na wat volhoubaar is en wat nie volhoubaar is nie.”

Programvernuwing is ook iets wat volgens Leysens moet plaasvind.

“Ons het 16 voorgraadse programme en party trek meer studente as ander. Ons moet vra hoeveel ons wel moet hê en hoeveel ons moet verander om meer effektief te wees.”

Daar het in 1996 laas programvernuwing in die lettere en sosiale wetenskappe fakulteit plaasgevind.

“Ek dink dit is vir mense dalk nie maklik om verandering entoesiasties in die oë te kyk en verandering aan te pak nie, want mense het ’n vrees vir verandering,” het Leysens bygevoeg.

Hy het klem daarop gelê dat ten spyte van die finansiële druk waaronder die fakulteit is, die kwaliteit van onderrig nie sal afneem nie.

“Daar is geen manier dat ons of die rektor en sy span sal toelaat dat die kwaliteit van kwalifikasies in die fakulteit afneem nie.”

Volgens Leysens sal die fakulteit volgende jaar reeds op ’n beter plek wees danksy 2016 se beter uitsette, omdat subsidies op ’n tweejaarsiklus wek.