S.Z. Minnaar
Met Matieland wat deur wingerde omring word, behoort wyn nie vir enige Matie vreemd te wees nie. Té veel Maties geniet egter net bokswyn (gewoonlik soet bokswyn) en weet nie altyd wat ’n meer gesofistikeerde wynproe behels nie.
As wyn nie in jou smaak val nie, is dit moontlik omdat jy dit verkeerd drink. Wyn moenie gedrink word net om vinnig op te warm nie. Behalwe vir die wingerdgriep wat jy die volgende dag gaan hê, is dit ook nie hoflik om goeie wyn te mors nie.
Darren Maree, voorsitter van die Universiteit Stellenbosch (US) se Wine Culture Society sê wynproe is ’n kuns.
“Dit is ’n gekultiveerde ding, maar moet nie dink dit is snobisties nie,” verduidelik hy.
Maree se advies vir beginners is om eerder met witwyne te begin en dan later rooiwyne te probeer. Algemene witwyne sluit in Chenin Blanc, Sauvignon Blanc, Chardonnay, Viognier, Riesling en Gewürztraminer. Algemene rooiwyne sluit in Pinotage, Shiraz, Cabernet Sauvignon, Merlot en Cabernet Franc. Dis ook goed om te hoor watter tipe wyn jou vriende of familie geniet en probeer verskillende tipes wyn om jou smaak te ontwikkel.
Die Matie het vir jou ’n kitsgids opgestel sodat jy nie soos ’n bergie by die wynproe uitstaan nie.
Hoe werk ‘n wynproe?
Met ’n wynproe probeer jy om die verskillende wyne met al jou sintuie te “proe”.
Mits daar ’n groot verskeidenheid wyne is, word wyne by ’n proe in die volgende volgorde gedrink: vonkelwyn, ligte witwyn, rosé, swaar witwyn, ligte rooiwyn en swaar rooiwyn.
Kyk eerstens na die wyn, veral na die helderheid en die kleur. Is die wyn dowwerig of helder? Is die kleur baie goud of amper kleurloos, soos water? Wyn met ’n donkergeel of goue kleur is baie gehout, wat beteken dit het lank in houtvate verouder. Wyn met ’n baie ligte kleur is baie min of glad nie gehout nie.
Ruik daarna die wyn. Verwyder die glas van jou neus af en swaai die glas in ’n sirkelbeweging. Ruik dan weer die wyn en hierdie keer behoort jy geure te kry wat dieper weggesteek is. Watter geure kan jy herken? Wat dink jy van die spesifieke geure in kombinasie met die wyn? Vrugte- of speserygeure is van die algemene aromas wat na vore kom.
Vat dan ’n klein slukkie. Spoel dit in jou mond rond om die smaak eweredig te versprei. Wat proe jy? Hoe verskil die smaak van dit wat jy geruik het? Daarna kan jy behoorlike slukke neem en die wyn drink.
Onthou ook om jou palet tussen verskillende wyne skoon te maak deur byvoorbeeld water te drink.
Maar ek kan nie ’n wynproe bekostig nie!
Moenie dink jy moet baie geld spandeer om goeie wyn te drink nie. Net omdat dit ’n bekende handelsmerk is, beteken nie noodwendig die wyn is van uitstekende gehalte nie.
Sluit byvoorbeeld by die Wine Culture Society aan. Die eenmalige lidmaatskapfooi dek alle funksies en dit word boonop van jou studenterekening afgetrek (dankie, mamma en pappa!).
Jy hoef ook nie ver te ry om ’n wynplaas te besoek nie. Wynplase vra gewoonlik nie ’n toegangsfooi nie en wynproeë kom in verskillende prysklasse wat vir studente voorsiening maak.
Vir die interessantheid:
In Suid-Afrika drink ons vonkelwyn en Cap Classique vonkelwyn (MCC) – nié sjampanje nié. Sjampanje is die benaming wat slegs gebruik word vir vonkelwyn wat uit die Champagne-streek in Frankryk afkomstig is.
Die datum op die bottel se etiket dui nie die jaar waarin die wyn gebottel is aan nie. Die jaar op die bottel se etiket dui die oesjaar (“vintage”) aan, oftewel die jaar waarin die druiwe geoes is.
Moenie ys by jou wyn gooi nie, want dit verdun die wyn. Koel die wyn eerder voor die tyd in die yskas af. As jy egter by die huis ys wil ingooi, gaan niemand jou (kan) keer nie. Pas net op vir deftiger geselskap of moontlike skoonouers.
Indien die wyn verkoel word, maak seker die wyn word nie te koud nie. As die wyn te koud raak, kan dit veroorsaak dat die geure nie lekker vrygestel word nie.