Jana Wentzel
Met ’n yskoue Parow Brandy in sy hand gesels Zander Tyler, oftewel Jack Parow, oor dié nuwe karate-water, … en hoe dit voel om 35kg ligter te wees.
Jy het onlangs ’n nuwe remix van “Dis bef*k” en ’ brandewyn-label ryker geword. Sou jy ooit kon dink dat jy tot hier sou kom?
Ek het gedink ek sou probably die song ryker word, maar die brandy kan ek nie glo nie. Ek is baie trots daarop. Ek was maar ’n 14-jarige Bellville-laaitie toe ek begin brandewyn drink het en nou het ek my eie een. En dan is dit nog ’n high quality craft brandy ook!
Jy het al shows geopen vir groot name soos Eminem. Hoe sal jy die gevoel van so iets verduidelik?
Die massiveness daarvan was great, ek meen om te open vir iemand soos hy is huge! Maar ek kon hom nie eers ontmoet nie. Selfs die cleaners mag nie eens naby gewees het met sy sound check nie. Maar ek het wel vir Snoop Dogg ontmoet en hy was so hoog gerook ek kon net sowel sy wax statue ontmoet het by Madame Tussauds, want dis hoe f*cked hy was. So ek was tot ’n mate teleurgesteld. As ek so daaraan dink, is ek eintlik bly ek het nie vir Eminem ontmoet nie. Hulle sê mos altyd never meet your heroes.
Jy lyk goed deesdae. Wat het jou laat besluit om gewig te verloor en hoe moeilik is dit om die gewig af te hou, veral terwyl jy nou jou nuwe brandewyn moet bemark?
Ek het moerse hard getrain en daardeur het ek soos 35kg verloor. Op die ou end het ek net besef ek raak nou oud en as ek wil aanhou musiek maak, sal fiksheid my baie help. Ek het op ’n tyd soos 60 sigarette ʼn dag gerook en f*kken baie brandy gedrink, nou is ek al drie jaar sonder sigarette. Dis nog steeds moeilik om op die pad nie brandewyn en Coke te drink of McDonalds te eet nie, maar ek maak net constantly die besluit om gesond te eet.
Jy het onlangs saam Jitsvinger ʼn remix van “Dis bef*k” gemaak, die liedjie wat eintlik vir jou dogtertjie, Ruby, geskryf is. Waar kom dié idee vandaan?
Wel, ek wou kind of net vir Ruby iets gee vir ingeval daar iets eendag met my moet gebeur, dan weet sy darem ek het ook al ’n song is vir haar geskryf.
Wat het jy as kind geglo sou jy eendag word? Is jy verras oor hoe dinge vir jou uitgedraai het?
Ek is definitief aangenaam verras. Ek is nog altyd ’n massive gamer en ek speel flippen baie video games. Ek wou regtig net enigiets word waarin ek baie games kon speel, dis hoekom ek op die ou end ook in design ingeval het. Ek speel nog steeds baie games en ek is bevoorreg genoeg om nou saam Playstation te kan werk.
Wat is die most awkward ding wat al by ’n show gebeur het?
Ek weet nie regtig nie, ek is baie keer dronk en dan besef ek nie eers as dinge awkward is nie. Maar ek moet erken dit is altyd awkward as ek my eie lyrics vergeet.
As daar een ding in die lewe is wat jy kon verander, wat sou dit wees?
F*ck man, ek weet nie. Ek wil nie depressing sh*t sê nie. So ek dink ek sou maar net my eie brandewyn al baie f*kken vroeër uitgebring het, want dis só lekker.
Jy stel binnekort ’n nuwe album vry, wat kan ons verwag?
F*k, ek weet nie eers op die oomblik nie, ek skryf maar nog. My deadline is eers Junie, maar ek dink dit sal maar baie dieselfde wees. Dit sal weer ’n jol wees, ek het klaar so een of twee songs geskryf wat lekker onbeskof is. Baie van my tjommies begin nou al hoe meer in die pop-genre ingaan. Ek voel regtig nie mens hoef te verander waarvoor jy staan net om f*kken geld te maak nie. Ek bly lief vir hulle almal, maar hulle moet weet ek gaan hulle een of ander tyd daaroor uithaal.
Wat hou jou gemotiveerd?
Wel, ek geniet wat ek doen. In fact, ek love dit. Dit voel regtig nooit soos werk nie en dis altyd ’n jol, ek kan musiek maak en kuier. Ek dink dis die main ding: If you do something that you like you will never work a day in your life. Ek het die beste job in die wêreld.
Wat hou die toekoms vir Jack Parow in?
Ek sal obviously aanhou musiek maak, maar’n groot ding waarvoor ek baie uitsien is die Parowfest in Holland. Hulle het actually vir my my eie fees gegee en ek dink dit gaan huge wees.
5 Dinge wat jy nie van Parow geweet het nie:
- Hy is mal oor local act Haezer
- Hy kan nie Steve Hofmeyr se musiek hanteer nie
- Hy en sy dogter, Ruby, hou daarvan om na Sam Smith te luister
- Sy beste vriend in die musiekbedryf is Wynand Myburgh, baskitaar-speler vir F*kofolisiekar en Van Coke Kartel
- Hy luister nooit na sy eie musiek nie