Dagbreek prim se “beautiful burden”

Wianda Gilliland

Daniël du Plessis, Dagbreek se dinamiese primarius van 2017 het na matriek besluit om sy bene te laat amputeer en om met kunsbene te leer loop. Hy gesels met Die Matie oor sy groot besluit, sy standvastigheid in sy geloof en hoekom hy soveel gelukkiger is nou.

Met ’n selfversekerde postuur, ’n vriendelike glimlag en potblou oë ontvang hy ons by Dagbreek se hoofingang. Eers toe ons by die trappies opstap en Daniël voorloop, sien ons die silikonkouse wat oor sy knieë gaan en die kunsbene waarmee hy met selfvertroue oor die quad stap.

Die inboorling van Sutherland, wat tans besig met sy honneurs in aktuariële wetenskap is, het vanaf geboorte ’n ander pad gekry om te stap en deesdae is daar min dinge wat dié Dagbreker onderkry.

Jonk en gelukkig

Toe Daniël op 4 November 1993 as een van ’n tweeling gebore is, was dokters geskok om te sien dat Daniël se onderbene onderontwikkel is, omdat hy normaal, nes sy suster, op die sonars voorgekom het. Daniël het fibulêre hemimelia, dieselfde defek as Oscar Pistorius, gehad, wat beteken dat hy geen fibula in sy onderbene gehad het nie.

Hy het grootgeword op hul familieplaas Kleinvisrivier, 50 kilometer buite Sutherland in die Noord-Kaap. Op 18 maande het hy sy eerste operasie ondergaan om sy bene te belyn, penne in te sit en om sy ligamente te versterk. Die lang herstelperiode het hom egter nie teruggehou nie, en hy het sy gips “deurgekruipˮ om by sy suster by te hou. Op drie jaar kon hy vir die eerste keer met spalke loop om die groei en belyning reg te kry. Daniël was ’n presteerder in akademie en sport en was glad nie skaam oor sy bene en voete nie. Hy vertel dat hy maklik sy skoene sou uittrek om sy drie tone aan elke voet ten toon te stel.

Ouer en onsker

Dinge het verander toe hy as ’n angstige graad 8 by Paarl Gimnasium ingestap het. Hy het meer en meer bewus geraak van sy defek, vertel hy.

“Ek het die mindset ontwikkel om sterk te lyk, omdat ek swak voel. Ek het gedagtes in mense se koppe geplaas oor my en myself begin terughou. Dit het begin voel asof ek nie eers met my eie bene loop nie.”

Onseker van homself en op soek na goedkeuring, het Daniël nóg harder gewerk om te presteer. Baadjies en balkies het hom sterk laat voel het. Toe hy in graad 10 pyn en drukking in sy bene begin ervaar het, het hy ophou sport beoefen, maar niemand daarvan gesê nie, omdat hy nie swak wou voorkom nie.

“Ek was hierdie akademiese kind, en dis wat mense gesien het as hulle na my gekyk het,ˮ vertel hy.

Kunsbene was ’n opsie, maar Daniël het dit eers in sy graad 11 jaar oorweeg nadat hy ’n kragtige woord in 2 Korintiërs 12:9 in sy Bybel gelees het. Daniël het self besluit dat hy ná skool ’n gap-jaar gaan vat om sy bene te laat amputeer. Hy sê die vers het hom laat besef dat “die Here se krag die beste werk in menslike swakhedeˮ.

Omdat hy reeds voorlopig vir sy kursus gekeur en verseker van ’n plek in Dagbreek was, was Daniël se ouers geskok om van sy planne te hoor. Hy was egter doodseker en het nie vir ’n oomblik getwyfel dat dit is wat die Here vir hom wil hê nie. Hy meen ook sy geloof het hom deur die proses gedra.

“Ek het geen rolmodelle nie. Mense is nie volmaak nie en hulle kan mens teleur stel. Jesus Christus is die enigste rolmoel waarna ek opkyk,ˮ sê hy.

Die groot besluit

In April 2013 het Daniel sy eerste operasie ondergaan om sy linkervoet te amputeer. Dit was ’n moelike operasie wat meer as vier ure geduur het en sy bene moes bo en onder sy knieg gebreek word om sy been se belyning reg te kry. Terwyl hy sy kunsbeen afhaal om vir ons sy stompie te wys, vertyl hy van die onuithoudbare pyn waarmee hy wakker geword het.

Ná drie maande het hy vir sy tweede operasie gegaan. Die keer was dit nie nodig om sy bene te breek nie en die operasie het glad verloop. Hy was nog in die hospitaal, toe die dokter daar aangekom het met sy eerste kunsbeen.

“Dit was ’n ongelooflike ervaring om die eerste tree te gee met die kunsbeen,ˮ vertel Daniёl. “Aangesien ek altyd baie kort was as gevolg van my onderbene se vertraagde groei, het die kunsbene my lengte vir my teruggegee. Ek kon my pa vir die eerste keer in die oё kyk.ˮ

Tree vir tree

By die huis aangekom met die kunsbeen, het die huis en selfs hulle skaaphonde vir Daniёl anders gelyk vanaf sy nuwe lengte.

“Dit was vreemd – ek moes skielik afbuk om die honde te vryf,ˮ sê hy.

Daniёl vertel van die vreemde ervaring met spookpyne, ’n sensasie wat ondevind word in die ledemaat wat geamputeer is. Hy het steekpyne in sy “voeteˮ (wat hy nie meer gehad het nie) gekry.  Die ergste was egter nie die pyn nie, maar die jeuk.

“My voete jeuk, maar waar moet ek dan nou krap?ˮ vertel hy laggend.

Gedurende sy vier jaar in Dagbreek, het sy passie vir presteer verander in ’n passie vir mense. Hy was eerstejaarsleier, tweedejaarsleier, HK en toe prim.

“Ek het nie presteer in Dagbreek nie. Nie akademies nie, ek het nie eerstespan-rugby gespeel nie, maar ek wou lei en ek wou mense dien. Dit was ongelooflik om te ervaar hoe die huis my ondersteun.ˮ

Hy is ook baie betrokke by sy kerk, Shofar, en hy vertel hoe daardie gemeenskap hom ook gehelp en ondersteun het om te kom waar hy is vandag. Daniёl het sy “beautiful burdenˮ by verskeie skole al gaan deel met die hoop om mense aan te raak en te inspireer om altyd perspektief in die lewe te hê.

Sy gunsteling plek in Stellenbosch is Ster Kinekor, want hy is mal oor flieks, maar hy geniet dit ook om ná die wynplaas Peter Falke te gaan. Hy gaan ná sy studies sy loopbaan by FirstRand in Johannesburg begin, maar sê hy sal graag eendag ’n boek of twee wil skryf oor sy lewensverhaal.

“Ek gaan die beste doen wat ek kan doen met die lewe en bene wat ek gegee is. En ek gaan altyd voluit gaan.ˮ

Social media & sharing icons powered by UltimatelySocial
Facebook
Twitter
Instagram